‘Ek is regstreeks hier. Ek is nie ʼn kat nie’

ʼn Texas-distrikhofverhoor wat oor Zoom gehou is, is vir ʼn kort rukkie onderbreek ná ʼn prokureur gesukkel het om ʼn videofilter af te skakel wat hom soos ʼn kat laat lyk het.

Beeldmateriaal van die voorval in Brewster-distrik het vinnig versprei nadat regter Roy Ferguson dit Dinsdag op sosiale media gedeel het.

“Belangrike Zoom-wenk: As ʼn kind jou rekenaar gebruik, maak seker die filters is afgeskakel voor jy by ʼn virtuele verhoor inskakel,” het die regter geskryf.

In die video sê regter Ferguson aan prokureur Rod Ponton dat dit lyk of ʼn filter in sy video-verstellings aangeskakel is. In ʼn stadium sê Ponton sy assistent probeer hom om die filter te verwyder. “Ek is bereid om voort te gaan. Ek is regstreeks hier. Ek is nie ʼn kat nie,” sê hy.

Ponton het later aan Vice’s Motherboard gesê die filter was ʼn fout wat sy sekretaresse gemaak het. “Ek het haar rekenaar gebruik en sy het om een of ander rede daardie filter gebruik. Ek het dit uiteindelik afgeskakel en met my gesig vervang.”

Hy het gesê die saak het verband gehou met ʼn man wat die VSA met onwettige produkte wou verlaat. Volgens hom kon die groep voortgaan met die verhoor sonder die katfilter.

Prokureurs Jerry Phillips en H. Gibbs Bauer was ook by die verhoor ingeskakel.

“Dié prettige oomblikke is ʼn byproduk van die regprofessie se toewyding om seker te maak die regstelsel kan in dié uitdagende tye voortgaan,” het regter Ferguson later bygevoeg. “Almal het dit met waardigheid hanteer en die prokureur het ongelooflike grasie getoon. Ware professionaliteit!”

Ponton het aan plaaslike media gesê: “As ek die land vir ʼn oomblik kan laat lag in dié moeilike tye, dan is ek bly om dit ten koste van myself te doen.”

Ondanks ʼn waarskuwing dat “enige opname van die beeld of klank van die video verbied word”, en ʼn boete van $500 of 180 dae tronkstraf tot gevolg kan hê, het die distrikhof ook die grappige voorval op YouTube gedeel. Daar is geen sensitiewe inligting wat in die beeldmateriaal gedeel word nie.

Die BBC berig die filter was deel van Dell-webkamera-sagteware uit ongeveer 2010.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Patch ·

Ek het nou lekker gelag. Hy moes net ‘n hoed met ‘n veer en bootse aangehad het ☺Lyk of die man bo gesukkel het om sy lag te hou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.