‘Ek koop nooit iets nuuts vir my kinders vir Kersfees nie’

Argieffoto (Foto: ExposureToday/Pixabay)

Catherine Lofthouse, ʼn ma van drie seuns, is ʼn kenner om al haar kinders se Kersgeskenke tweedehands op te spoor. Sy maak selfs weer geskenke op van vorige jare.

Dié 40-jarige ma van Leicestershire in Engeland, het geskenke-op-ʼn-begroting tot ʼn kuns verfyn en sy spandeer bitter min geld terwyl sy steeds seker maak daar is baie geskenke onder die boom.

Sy weier om honderde pond uit te gee op splinternuwe geskenke en gaan snuffel eerder in tweedehandsewinkels vir winskopies.

Catherine sê sy “bederf graag” haar kinders, sonder om haar bankbalans of die planeet te ruïneer. Sy is ʼn winskopiejagter al sedert 2012 toe haar oudste seun gebore is. “Ek wil nie hê hulle moet tekort skiet aan enigiets nie, maar hulle is nou al so gewoond aan tweedehandse geskenke dat hulle nie eintlik iets anders ken nie,” het sy aan die Sun gesê. “ʼn Groot deel van die pret is om dinge op te spoor waaroor hulle dol gaan wees, selfs al was dit nie op hul Kersfees-wenslys nie. Dan verpak ek dit in kleurvolle bokse en sakke – wat ek elke jaar gebruik.”

Catherine het vanjaar items soos wetenskapstelletjies, Marvel-geskenke en Minecraft-boeke in tweedehandsewinkels opgespoor. Die waarde van die geskenke beloop ongeveer £125 (sowat R2 600) terwyl sy slegs sowat £25 (net meer as R500) spandeer het.

Sy trek ook ou geskenke weer oor om dit as ʼn nuwe geskenk aan te bied. “Hulle het dalk die vorige keer nie in iets spesifiek belanggestel nie, maar ʼn jaar of twee later is hulle dol daaroor. Ek is nie seker of ek langer met dié truuk sal kan wegkom soos wat die kinders ouer word nie.”

Alhoewel haar manier van geskenke uitdeel dalk nie in almal se smaak val nie, sê sy sy het nog nooit vantevore kritiek ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Was almal maar soos hierdie mamma.
Hierdie belaglike duur geskenke oor Kersfees is ook nie vir my nie.
Ouers kompeteer gewoonlik om te kyk wie kan vir hulle kinders die grootste en duurste geskenke koop en verloor heeltemal die betekenis van Kersfees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.