Erfgeld te swaar om te dra

Foto: Picture-Alliance, dpa

ʼn Duitse bankier moes ses maande lank tel aan 1,2 miljoen pennies (ongeveer 17c elk) wat ʼn vragmotorbestuurder aan sy familie agtergelaat het.

Die gesin wou die vrag pennies deponeer en ʼn klerk moes per hand die pennies begin tel. Die bankier het uiteindelik verlede week die laaste van die 2,5 ton pennies getel, aldus die openbare uitsaaier NDR.

Die voormalige vragmotorbestuurder het die pennies oor 30 jaar versamel en dit aan sy familie bemaak. Hy het die 1,2 miljoen pennies in honderde vrieskassakkies gepak. Die pennies is die kleinste eenheid Deutschmark, die geldeenheid van die Federale Republiek van Duitsland voor die euro in 2002 ingestel is.

Die vragmotorbestuurder is in Mei oorlede.

Dit was nie moontlik om die pennies in ʼn masjien te tel nie, aangesien sommige daarvan geroes was en aan mekaar vasgesit het, het Wolfgang Kemereit, die ywerige werknemer van die Oldenburg-tak van Deutsche Bundesbank, aan NDR verduidelik. Hy het met sy gewone bankpligte voortgegaan en tussendeur die pennies getel. Dit het hom ongeveer ʼn uur lank geneem om elke sak te tel.

“Ek het elke pennie in my hand gehou,” het hy aan NDR gesê. “Ek geniet sulke goed, so dit was nie ʼn probleem nie.”

Die waarde van die pennies beloop €8 000 (ongeveer R120 000), ʼn onverwagse erflating vir die familie van die oorlede man.

Alhoewel Deutschmark sedert 2002 nie meer in gebruik is nie, kan dit onbepaald geruil word by enige tak van die Bundesbank. Die wisselkoers tussen Deutschmark en die euro is 1.96 Deutschmark tot €1.

Volgens die Bundesbank is ongeveer 13 miljard DM (€6.48 miljoen) nog steeds in sirkulasie in papiergeld en munte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Piet ·

Al ooit gehoor van ‘n skaal? Dis pennies, nie diamante nie.

Paul Fouche ·

Die laaste sin 13 miljard DM is dan volgens wisselkoers van 1.96DM vir €1 is €6.63 miljard en nie miljoen nie.

Koos1 ·

1.2 Mij pennies teen R0.17 is R204000. Teen die huidige wisselkoers van ongeveer R17 teen die Euro is dit sowat 12000 Euro.
MM iewers het iets verkeerd gegaan met julle berekenings.

jannie ·

as ek 17c maal met 1.2 mil kom ek by R204 000 uit….aan einde is julle sommer nie reg nie….R120 000!!!!!!

Mike Kaapstad ·

Sjoe ek het nog lank om te gaan my 5 sente weeg nou eers 10 kg……………..

Vermeende ·

Jammer maar die persoon wat die krtiekel geskryf het stem DA, die DA sukkel maar om te tel, hulle glo mos vas dat hulle die 2019 verkiesing gaan wen.
Tel is maar nie vir almal nie…….lol!

SêNet71 ·

As jy iemand “uithaal” oor sy wiskundige vermoë òf gebrek daaraan, moet jy seker maak dat jou spelling 100% korrek is.

Foxi ·

My bure se seuntjie tel elke sent op wat summier weggegooi word by inkopie sentrums en parkeer tereine. So het hy dit in botteltjies gegooi en gespaar totdat die bottels vol was. Hy het dit bank toe gevat en n ronde R500 rand gekry daarvoor. Daardie gesiggie het gestraal van vreugde. En hy doen dit nogsteeds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.