Etiket: Só maak mens

Argieffoto (Foto: NGDPhotoworks, Pixabay)

Argieffoto (Foto: NGDPhotoworks, Pixabay)

Etiket is vir meeste mense iets uit die oude doos, maar tog sê ons nog steeds “asseblief” en “dankie” – en nie net omdat dit goeie maniere is nie.

Etiket verseker dat jy nie onbeskof voorkom nie. Die doel is om dinge so goedhartig as moontlik te doen en om ander mense in ag te neem wanneer jy iets doen – wie weet, jou goeie optrede kan dalk iemand anders ook aanspoor.

Hiermee ʼn paar etiketreëls wat nie algemeen verkondig word nie:

1. Applous

Moenie jou hande voor jou gesig hou wanneer jy handeklap nie. Hou dit voor jou bors, bietjie na jou linkerkant. Moet uiteraard nie voor iemand anders se gesig handeklap nie.

2. Klim in die motor

Hierdie reël geld veral vir dames. Sit eers op die sitplek en swaai dan jou bene in. Só voorkom jy dat jy per ongeluk iets aan ander mense vertoon wat jy dalk privaat wou hou, en jy voorkom dat jy jou kop teen die dak stamp.

3. Botter op die tafel

Moenie die botter direk uit die bakkie gebruik nie. Plaas ʼn bietjie botter in jou bordjie en smeer dan jou broodjie. Só voorkom jy boonop dat daar krummels in die bakkie agterbly.

4. Wanneer jy iets wil wys

Moenie met jou vinger na iets wys nie. Gebruik jou oop hand om iets uit te wys.

5. Wanneer jy hoes

Moenie jou regterhand gebruik wanneer jy hoes nie. Die idee is om jou regterhand (jou “sosiale hand”) skoon te hou – die een wat jy gebruik wanneer jy iemand se blad skud of wuif.

6. Wanneer jy opskepbakke teruggee

Indien jy iemand se plastiekbak of opskepbak geleen het, maak seker jy gee dit nie leeg terug nie. Maak seker daar is ʼn eetdingetjie soos koekies of enigiets anders te ete in wanneer jy dit teruggee.

7. Heildronke

Moenie self ʼn slukkie neem wanneer iemand ʼn heildronk op jou instel nie.

8. Sout en peper

Indien iemand aan tafel die sout versoek, maak seker jy gee altyd beide die sout- en die peperpot aan. Dis soos ʼn paartjie wat saam opdaag, selfs al het jy net een uitgenooi.

9. Gesondheid in die rondheid

Onthou om altyd oogkontak te maak met die persoon met wie jy ʼn glasie klink.

10. Glas, beursie

Onthou om jou handsak, beursie en glas altyd in jou linkerhand te dra om seker te maak jou regterhand, jou “sosiale hand” is vry.

11. Moenie die bruid geluk wens nie

Meeste mense weet dit nie, maar dit word as onbeskof beskou om die bruid geluk te wens. Indien jy die bruid geluk wens, kan dit dalk voorkom of jy dink sy het nie baie aanbiedinge gehad nie. Dis beter om die bruidegom geluk te wens.

Volg jy etiketreëls? En wat dink jy van dié groepie etiketreëls? Laat weet ons gerus in die kommentaar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Rina Pretorius ·

ja en dan wens n mens net die bruidegom geluk dan dink die bruid jy probeer haar man se aandag trek deur net met hom te praat en haar uit te skakel. wonder maar net.

humor ·

Ek reken wanneer jy die man n handdruk gee, maak dan oogkontak met albei en spreek jou goeie wense teenoor albei uit. Wat die res betref hou ek van want dit beeld beskaaftheid, respek en goeie maniere uit. Wat in die motor klim betref, ag n man wil darem soms n mooi been waardeer. Dit is egter veel mooier as dit as n glips voorkom en nie doelbewus uitlokkend is nie.

humor ·

Maroela jul sedelik – morele waardes is n bietjie oordryf.

Akram ·

Genugtig. daar is nou n paar dinge wat ek drasties moet opskerp. ons eet met die regterhand, dis vir die volgende redes: die linkerhand is die hand wat jy gebruik as jy badkamer toe gaan. ons los ons skoene ook buitekant. baie redes maar die beste ene is dat besoekers nie die huis vol grond trap nie. by die deur is plakkies wat jy binne kan dra. in Islam ward die regterhand afgekap as jy aangejaag het. die rede is dat jy met die regterhand kos eet. so nou sonder die regterhand moet jy die linkerhand gebruik. baie verkeerd en teen die beginsels. dis ook om die oorterder meer te straf, want niemand sal sommer weer kos vat uit n bak as n persoon sy linkerhand gebruik ht nie. net vir interessantheid.

Leana ·

Dis altyd goed, om so nou en dan weer aan etiket herinner te word. Dis klein dingetjies, maar maak die lewe net ‘n ietsie beter. Doen so voort!

Elfie ·

En een reël wat so baie mense oortree is om ongevraagde, niksseggende, kritiserende of gewoon negatiewe kommentaar op sommige Maroelaberigte te lewer.

Retha Malan ·

Ek hou niks van die “jy moenie ‘n leë houer terug gee nie”. Wanneer ek gee, gee ek uit my oorvloed, soos as die perske boom goed dra of omdat ek iets WIL GEE en ek wil regtig nie hê die ontvanger moet nou onder ‘n verpligting voel nie. “Dankie” is ‘n vol sin en oorgenoeg.

Theresa ·

Glad nie geweet die bruid moet verkieslik nie geluk gewens word nie!! Doen al baie jare verkeerd – wens albei geluk met die mooi dag! Ek vermoed die bruide wat ek al die voorreg gehad het om geluk te wens, sou my verkwalik as ek dit nie gedoen het nie, want ek is doodseker hul weet ook nie van hierdie stukkie etiket nie. Baie interessant!

Beertjie ·

Sê die volgende met ‘n knipoog vir die bruid wanneer jy die bruidegom geluk wens: “Ek weet etiket verwag dat slegs die bruidegom geluk gewens word maar jy lyk so pragtig en ek is so bly vir julle albei se groot stap dat ek jou ook gaan geluk wens”. Dan sal niemand kan sê dat jy nie by etiket hou nie en die bruid gaan ook goed voel.

Jo ·

Ek het hierdie een jare gelede geleer: Moenie jou mond na die vurk toe bring as jy eet nie, bring die vurk na jou mond toe. Baie mense weet dit seker maar mens sou dit nie kon raai as mens sien hoe part mense eet nie. Slegte tafelmaniere is afgryslik en ek praat nou nie daarvan as mens n lekker tjoppie met die hand eet nie.

eddie ·

Wie get die reels uitgedink? En waar is die oorsprong van die reels aangeteken ?

Lizzie ·

Ai, ek wens so julle kan ook etiket reels gee oor tafelmaniere.
Ek ken mense wat my skoon naar maak, maar weet nie hoe om hul aan te spreek nie. Oopmond kou en praat gelyk, mes en vurk rondswaai, uit die piering koffie drink, ai tog. Help bietjie Maroela!

Gert Goeiemaniere ·

Korrekte etiket is deesdae so raar dat dit dikwels, uit onkunde, as flirtasie aangesien word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.