Die laaste oorblywende stuk van ʼn toksiese “fatberg” wat in Londen se Victoriaanse rioolstelsel gevind is, word tans in die Londen-museum uitgestal.
ʼn “Fatberg” is ʼn massa van gestolde vet, “wet wipes”, babadoeke, olie en kondome”.
ʼn “Fatberg” met ʼn gewig van 130 ton en meer as 250 m in lengte is in September in die Victoriaanse rioolstelsel in Whitechapel gevind. ʼn Stuk van die “fatberg” word deur die Londen-museum en bedryfskundiges bewaar.
Volgens die BBC wil Thames Water, wat verantwoordelik is vir openbare watervoorsiening en afvalwaterbehandeling in groot dele van Londen, die “Fatberg”-uitstalling gebruik om te waarsku teen die toename in “fatbergs”, wat “ruik soos ʼn mengsel tussen verrotte vleis en ʼn stinkende toilet”.
Die “Fatberg’-uitstalling wat van Vrydag oop is vir die publiek, beeld die nege week lange proses uit om die massiewe blokkasie te verwyder en sy tog van Whitechapel tot in die vertoonkas waarin ʼn stuk daarvan nou uitgestal word.
“Dit is belangrik dat ons goed uitstal wat die hoogte- sowel as die laagtepunte weerspieël van wat dit beteken om in die stad te woon,” het Vyki Sparkes, kurator van die uitstalling, gesê.
“Die uitstalling herinner ons daaraan dat iets wat uit die oog is, nie noodwendig vir altyd weg is nie,” het Becky Trotman van Thames Water gesê. “Help asseblief om Londen en al die rioolstelsels skoon te hou. En moenie die “fatberg” voer nie.”
Die uitstalling duur tot 1 Julie.