Fiona die seekoei kry dalk haar lewensmaat deur Twitter

Die verliefde Timothy die seekoei

Dit was liefde met die eerste oogopslag toe Timothy, ʼn seekoei van San Antonio, vir Fiona, van die dieretuin in Cincinnati, op Twitter gesien het.

Fiona het in 2017 almal se harte gesteel met haar oulike persoonlikheid toe die dieretuin in Cincinnati haar vordering gepubliseer het van ʼn vroeggebore seekoeikalfie tot ʼn groot en gesonde grootte.

Timothy, ʼn tweejarige seekoei van die San Antonio-dieretuin, het nou (met bietjie hulp van mense) op Twitter vir haar ʼn boodskap gestuur: “Ek het jou op die internet gesien … jy is die mooiste seekoei wat ek nog ooit gesien het! Kan ons mekaar miskien eendag ontmoet en dalk kêrel en nooi word?”

Timothy se dieretuin is byna 2 000 km van Fiona se dieretuin, maar dit het hom nie gekeer om liefde te gaan soek nie.

Cincinnati het vinnig op Timothy se boodskap reageer: “Fiona dink jy’s ook oulik, maar dis wat aan die binnekant is, wat tel. Jou DNS sal bepaal of jy die regte maat is vir ons klein diva. Enige voornemende maat sal ook bereid moet wees om uit die kollig te staan – is jy oukei met paparazzi? En die belangrikste, is jy bereid om na Cincinnati te verhuis?”

Sosialemediagebruikers was dol oor die interaksie tussen die twee. Timothy se plasing is deur meer as 11 300 persone gedeel en meer as 45 000 het daarvan gehou. Fiona se reaksie is meer as 18 800 keer gedeel.

Gebruikers was baie beskermend teenoor Fiona, maar het ook ʼn paar wenke vir Timothy gestuur hoe om haar hart te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nettie ·

Voor Fiona man vat, sal sy darem sowaar iets aan al daardie swartkoppies op haar ken en neus moet doen! :-)

FionaSeVoog ·

Nee man, jy het dit mis…kyk weer: dit is Seekoeiversiering en sy is ge-embosseer vir die profielfoto! ;) Pragtig Fiona! :D

rollie ·

Die naam seekoei vir ‘n dier wat nie eers in die see voorkom nie. Ek wonder wie is die genius wie hierdie woord geskep het?

E.K. die eerste ·

Rollie: van die Hollandse setlaars! Die seekoei (Hippopotamus amphibius) is ‘n groot, oorwegend plantetende Afrika-soogdier, een van slegs twee bestaande spesies in die familie Hippopotamidae (vanaf Grieks: ἱπποπόταμος hippopotamos, waar hippos “perd” en potamos “rivier” beteken). Die naam “seekoei” was reeds by die Nederlandse volksplanting in Suid-Afrika deel van die Koloniaal-Nederlandse taalskat, soos opgeneem in die Daghregister van Jan van Riebeeck[3] (as zeekoe op 26 Oktober 1652) en die Duitse sjirurg Johann Schreyer se reisverhaal, Neue Ost-Indianische Reisz-Beschreibung (1681) – vanaf Wikipedia

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.