Flint weer veilig tuis ná hy vir seeleeu skrik

Flint en sy hanteerder, Richard Johnston (Foto: New Zealand Department of Conservation via AP)

Dinge het begin skeefloop vir Flint, ʼn rot-snuffelhond, toe ʼn aggressiewe seeleeu hom gejaag het.

Flint het geskrik en van sy hanteerder weggehardloop. Die span het hom geroep en vir hom gefluit, maar niks kon hom laat terugkeer nie. Flint was alleen en verdwaal op die onbewoonde Campbell Island, geleë tussen Nieu-Seeland en Antarktika.

Om dinge te vererger, het Flint ʼn muilband aangehad, so hy sou nie kon eet nie en dit sou baie moeilik vir hom wees om enigiets te probeer drink.

Die tyd vir sy oorlewing het al hoe minder geraak.

Flint was op die eiland as deel van Operation Endurance, ʼn projek met 100 natuurbewaarders, weerbeamptes en lede van Nieu-Seeland se weermag. Campbell Island is een van talle klein eilande waar Nieu-Seeland rotte en ander roofdiere uitgeroei het om bedreigde voëlspesies toe te laat om te floreer. Flint was daar om seker te maak dat geen rotte teruggekeer het nie en die muilband is standaard-toerusting om die snuffelhonde te verhoed om die seldsame voëls, wat nie kan vlieg nie, aan te val.

John McCarroll, waarnemende bedryfsbestuurder van die departement van natuurbewaring, het beskryf wat met Flint gebeur het ná hy Woensdag weggehardloop het. Bemanningslede het te voet na hom gesoek en die weermag het selfs ʼn helikopter, met termografie-toerusting, ingespan om die eiland te deursoek. Ná sewe ure was daar nog geen teken van Flint nie.

Die vyfjarige Flint, ʼn Jack Russel-foksterriër-kruising, is klein en het in die digte woud verdwaal. Die baadjie wat hy gedra het om hom warm te hou, het moontlik verhoed dat die helikopter se kameras hom kon raaksien.

Teen 23:00 Woensdagaand, met slegte weer wat dreig en meganiese probleme op die vlootskip waarmee hulle gevaar het, moes die span die hartverskeurende besluit maak om Flint agter te laat. Veiligheid van die bemanning moes topprioriteit geniet.

Op Nieu-Seeland se vasteland het planne begin vir ʼn groot reddingsoperasie. ʼn Span van Heli Otago het ekstra brandstof in ʼn helikopter gelaai om seker te maak hulle het bykomende brandstof vir hul reis terug. Drie spanlede het Vrydag meer as 650 km oor die Stille Oseaan na die eiland gevlieg en ook by ʼn vulstasiedepot op pad stilgehou.

Hulle het Flint by die basis opgespoor. Ná twee dae het hy self die pad terug gevind – ongeveer drie uur se stap van waar hy verdwyn het.

“Hy was aanvanklik skrikkerig vir die helikopter se geraas,” het McCarroll gesê. “Hulle het hom twee keer geroep en toe het hy gretig die span kom groet.”

Die bemanning het Flint se muilband afgehaal en vir hom genoeg kos en water (en drukkies) gegee.

Flint het teen Vrydagaand veilig op die vasteland aangekom waar McCarroll gereed gestaan het om hom terug te verwelkom. Flint het uiteindelik vinniger by die huis aangekom as sy hanteerder, Richard Johnston, wat na verwagting eers vroeg volgende week met die skip terugkeer.

“Dit gaan goed met Flint. Ons het vir hom nog kos en water gegee en hy het dit gulsig verorber. Dit lyk of hy gesond is, en hy lyk baie gelukkig en tevrede om terug te wees by die huis.”

McCarroll sê hulle sal mooi omsien na Flint totdat Richard terugkeer. Hul topprioriteit? Om seker te maak dat hy nie weer weghardloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Flint kind ·

Ek is mal oor “and the lived haply ever after stories.” Dankie

Helene ·

Baie bly dat Flint terug is. Sou nooit oor my hart gekry het om hom daar agter te laat.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.