Foto oor ‘vaderskap’ ʼn les vir alle ouers

Justin Baldoni, sy pa en dogter Maiya (Foto: Facebook)

Meeste ouers weet dat kinders soms op die “verkeerde” tye en plekke aan die huil kan gaan – en dit lei gewoonlik tot ʼn vernedering vir die ouers. Hierdie foto daag egter dié persepsie.

Justin Baldoni, bekend vir sy rol in die televisiereeks Jane The Virgin, het onlangs só voorval in ʼn winkel beleef en ʼn foto van hom, sy dogter en sy pa, word nou wyd op sosiale media versprei as “ʼn les in ouerskap”.

Baldoni skryf op Facebook hy onthou wat sy pa in soortgelyke situasies met hom gedoen het, en deel daarom dié roerende boodskap en foto. Justin het inkopies gedoen saam met sy pa, sy vrou Emily en hul dogtertjie Maiya. In die foto sien mens hoe die twee mans rustig bly staan terwyl Maiya in ʼn drifbui tekere gaan. Dis duidelik dat die twee mans nie verneder voel deur die situasie nie, ondanks die feit dat hulle in ʼn besige winkelsentrum staan.

“Emily het dié foto in Whole Foods geneem. Dis nou een van my gunstelingfoto’s van my en my pa,” skryf Baldoni. “Twee mans, wat in stilte staan, vir ewig gebind deur ʼn onvoorwaardelike liefde vir mekaar en hierdie splinternuwe siel vir wie ons enigiets sal doen. Ek kan maar net dink hoeveel keer ek dit gedoen het toe ek so oud was soos sy. My pa het my so baie geleer van wat dit beteken om ʼn man te wees, maar hierdie skrywe gaan net oor een ding: om gemaklik te wees in die ongemaklike.

“Dis iets wat ek hom oor en oor sien doen het toe ek grootgeword het. Daar is nie perfekte ouers nie, maar een ding wat my pa my geleer het, is om nie ʼn ouer te wees gebaseer op dit wat iemand anders dink nie. My pa het my altyd laat voel, dit wat ek nodig gehad het om te voel – selfs al was dit in die openbaar en vernederend. Ek kan nie een keer onthou wat hy ooit gesê het: ‘Jy verneder my!’ of ‘Moenie huil nie!’ Dit was maar eers onlangs dat ek besef het hoe belangrik dit vir my eie emosionele ontwikkeling was.

“Ons kinders leer en prosesseer soveel inligting dat hulle nie weet wat om te doen met al hierdie nuwe gevoelens nie. Ek probeer om seker te maak my dogter weet dis oukei as sy sterk gevoelens beleef. Dis nie ʼn vernedering vir my wanneer sy ʼn drifbui beleef in ʼn winkelsentrum of op ʼn vliegtuig skree nie. Ek is haar pa … nie joune nie.

“Laat ons nie deur ons kinders verneder voel nie. Dit reflekteer nie op jou nie. Om die waarheid te sê, ons behoort almal bietjie meer verdraagsaam en geduldig met onsself te wees. As ons alles kry uit dit wat ons voel en onsself toelaat om soms ʼn drifbui te beleef of te huil wanneer ons dit nodig het, sal ons miskien onsself ook toelaat om meer vreugde en geluk te beleef.

“En dis iets wat die wêreld definitief nodig het.”

Die hoeveelheid druk wat die gemeenskap op ouers plaas – soms onbewustelik, kan ouers laat twyfel in hulself. Maar, soos wat Justin skryf, leer kinders om al die elemente rondom hulle te beleef en dit lei soms tot ʼn uitbarsting van emosies. Soms is dit heeltemal oukei om net bietjie te huil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Theresa ·

Sjoe, ja – hoe om nie te staan en smile terwyl jou kind ander mense se ore afskreeu nie.! Maar, ten minste sien sy nie tans met haar gesiggie in die mat (waar duisende vuil skoensole trap) nie hoe hul glimlag oor haar woedebui nie. Weird uitkyk op die lewe… dalk werk dit vir sommiges – sou dit egter nie aanbeveel nie.

Dee ·

Ek stem nie saam dat n kind toegelaat moet word om vloermoere in n openbare plek te gooi soos dit hulle pas nie Hulle moet van kleinsaf leer dat daar sekere gedrag is wat onvanpas en onaanvaarbaar is en dat jou gedrag sekere gevolge het Die volgende is n vloermoer in die klaskamer, iewers in die toekoms dalk n student wat n vloermoer in die by n universiteit gooi en dan n vloermoer by die werk eendag as hy/sy nie hulle sin kry nie As n onderwyser en lektor het ek soortgelyke vloermoere van leerders en studente ervaar Verwyder die kind uit die situasie, en daar behoort reels in die huis te wees van strafmaatreels vir swak gedrag, bv. ontneem die kind sekere voorrregte wat by die ouderdom pas. Te veel ouers is vandag net toeskouers soos hierdie pa en dan moet ander mense hulle pligte oorneem. Jammer, gebruik eerder hierdie foto by ouerskap kursusse oor hoe ouers nie moet optree nie.

Danie ·

Stem 100% saam. Die lewe gaan nie net staan en kyk terwyl jy droogmaak nie… jy gaan gestraf word….! Kinders moet leer dat die gevolge van swak gedrag pynvol kan wees… soos n drag slae.

Albatros ·

Stem. Myne het dit net een keer probeer. Sy’t nie pakslae nodig gehad nie. Sy’t verstaan toe ek begin tel het…

Beth ·

Ek stem nie saam nie. As kind het ek n vloermoer gegooi. My ma het my ignoreer en ek het dit nooit weer gedoen nie. Hierdie dogtertjie leer wat ek geleer het – vloermoere werk nie. Hierdie pa gee mos nie toe nie. As hy het, sou hy gegee het waarvoor sy gevra het. Sy leer baie goed n vloermoer werk nie. Daai studente waarvan jy praat – hulle ouers het nie soos hierdie pa en my ma vloermoere ignoreer nie. Inteendeel hulle het ingegee. Dis hoekom jy sukkel met hulle.

Elana ·

Natuurlik mag n kind vloermoere in openbare plekke gooi. Wat daarna gebeur is wat belangrik is. Mens lei jou kind na die tyd en verduidelik hoekom hy/sy iets spesifiek nie op daai spesifieke oomblik kon kry of doen nie. As jou kind in daardie situasie iets sinvol geleer het, is dit al wat saak maak. My kinders gooi nie vloermoere in winkels nie. Maar voor die tyd word hulle beslis gelei en vertel wat ons by die winkel gaan maak en wat van hulle verwag word. En daar is beslis gevolge waarvan hulle 100% bewus is indien hulle nie luister nie.
Ek gee ook nie om as mense my wil aanstaar of oordeel sou hulle n vloermoer gooi en ek dit net ignoreer nie. Dis my saak en het niks met enige iemand anders te doen nie. Solank ek my kinders n goeie opvoeding gee en hulle goed kan funksioneer in die samelewing is dit al wat tel.

Gert ·

Dit is glad nie ‘n goeie les nie. Die kind leer nie dat negatiewe gedrag gestraf word nie.

Jacques Maré ·

Nee, sy het juis geleer dat haar ouers nie sal ingee vir haar emosionele manipulasie nie. Sy gaan dit nie weer doen nie, want sy’t geleer dit werk nie.

Janet ·

Tog raak kinders moeg vir vloermoere wat nie die gewenste resultaat het nie.

Hannelie ·

Ek stem nie saam nie. Dit mag dalk nou snaaks wees maar wat as daai kind ‘n paar jaar ouer is. Sy gaan sien sy kom weg met alles en raak dan al erger elke keer as sy in ‘n winkel kom. Die ouers moet daai boompie buig terwyl hy jonk is. help daai kind op met die plathand en dit sal nie weer gebeur in ‘n winkelsentrum of enige ander plek nie. Vandag se ouers moet leer kinders kan nie met mooipraat grootgemaak word alleen nie. plathand so af en toe is ook goed

Marilee ·

So jy sê vir jou kind jy sal haar beskerm en liefhê maak nie saak wat nie, maar dan slaan jy aan haar? Dit maak nie sin nie.

maria ·

Ek dink nogal dit kan werk. As kind vloermoer gooi ingoreer hom net, hy soek aandag. Sal weldra ophou as hy nie sy sin kry nie

A Mac ·

Toe my kinders klein was en hulle het ‘n vloermoer gegooi het ek alles net so in die winkel gelos, die kind opgetel en huistoe gegaan. Geen pakslae nie, net geen lekkers of speelgoed of tv nie. En sit op die stilstoel vir ‘n tyd. Was nogal snaaks toe die groot een vir die kleintjie begin waarsku het wat gebeur as jy nie mooi soet in die waentjie sit en vir mamma luister nie.

OOK MAAR NET MA ·

En soos gewoonlik staan die beste stuurman aan wal…..

Ann ·

My kinders het nog nooit ñ vloermoer in ñ winkel gegooi nie, want hulle het van kleins af geweet wat goed is vir hulle. Ek kan nie eers onthou of hulle al ooit neergeval het en geskree het nie!
Ja, hulle het hierdie sogenaamde “silent tantrums” waar hulle so botstil staan, maar neerval? Nooit!

Marinda ·

Baie goed gehanteer. Toe ons kinders was, het my ma, ons voor die tyd gewaarsku. Geen shenanigans van julle nie. Julle gedra julleself of…. En een kyk van my ma en jy het nie durf ñ geluid maak nie. My ma het ons nooit onnodig pak gegee of geraas nie. Sy was ñ baie rustige mens. Daai “kyk” het jou net twee keer laat dink. RIV ma. Ek mis jou.

Francie ·

Ek stem saam met jou Hannelie.
Ek glo ‘n kind moet vroeg reeds besef dat daar onaangename gevolge is vir negatiewe gedrag..
(

Renette ·

Jammer by my het my kinders elkeen net een kans gehad vir n vloermoer in n winkel en dit was hulle laaste een. N pakslae net daar en dit was laaste. Dis hk ons daar is om hulle te leer wat is verkeerd en wat is beskaaft optree.

Jacques Maré ·

Hierdie taktiek het presies dieselfde uitwerking. Sy’t geleer dat dy nie hasr ouers kan manipuleer om gaar sin te kry nie. So terloops die geraas van die gehuil van ‘n pak slae en die geraas van die vloermoer is presies dieselfde ding, behalwe dat jy dieselfde les geleer kry, sonder geweld.

jan_alleman ·

nee wat my maat , dis jou kind en jou Dr spock metodes was al probeer , n kind wat vra vir n pakslae kry een , dink jy nou werklik dat niemand in die laaste 2000 jaar van kinders grootmaak nie al n ander manier probeer het nie ? jy dink jy is die enigste mens wat dink en wat slim is ? nee my maat meeste mense is gewoonlik slimmer as jy

Ballon ·

Dan is daar ook die ander ‘vloermoer’ waar die kleintjie (so 10 jaar oud) jou met glurende ogies aankyk met wange soos balonne opgeblaas wat ‘n brulpadda sal laat jaloers kry. Dit was nie my dogtertjie nie want sy sou lankal ‘n raps op die boudjies gekry het.

G ·

Wat party van julle nie in ag neem nie, elke kind is anders. Mens kan nie vir die een ouer wil vertel sy/haar metode is verkeerd, en joune is reg nie. Ek het ook al so gestaan en wag dat my kind moes ophou huil buite ‘n winkel, daarna het ek haar opgetel en aangestap. Sy het gesien sy gaan nie haar sin kry nie, en sy het dit nooit weer gedoen nie. Vandag is sy al amper 4, as ek vir haar sê ek gaan nie nou ‘n item koop wat sy in haar hand het nie, dan sit sy dit neer. Geen geskree in winkels nie. Ek glo nie mens moet vir elke liewe ding pak uitdeel nie. Maar, to each his own nè?

Wessel ·

Opskrif – Die arogansie van die skrywer, wie het vir hom/haar aangestel, om vir ander mense te probeer leer?

August ·

My opinie is dit hang af van die kind se persoonlikheid. n Stil gehoorsame kind wat skielik so optree oor geirriteerdheid in omstandighede wat te veel word sal anders hanteer word as n moetswillige klein tiran wat al tot vervelens toe getugtig is op alderhande maniere. Hang af van die unieke kind wat jy het …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.