Foto’s: Almal gaande oor dié vlieënier en sjimpansee wat hy gered het

Foto: Lwiro Primates, Facebook

Lwiro Primates, ʼn rehabilitasiesentrum en skuiling vir nagenoeg 200 sjimpansee-wesies en apies in die Kongo, het ʼn dierbare video gedeel van ʼn babasjimpansee wat gered is.

Klein Mussa sit op die vlieënier se skoot wat hom van Virunga Nasionale Park na veiligheid vlieg by Lwiro.

“Sy familie is ongelukkig almal dood,” het Lwiro op Facebook gesê. “Ons weet nie hoeveel dit was nie, miskien net sy ma – maar waarskynlik is sy hele familie uitgewis.”

Kykers is net so dol oor die bebaarde vlieënier as die oulike sjimpansee – waarskynlik oor die vlieënier se liefderyke manier hoe hy die sjimpansee hanteer. Hy sus Mussa en hou selfs toesig wanneer die babasjimpansee aan ʼn knoppie vat op die instrumentpaneel. Die sjimpansee raak selfs aan die slaap op sy skoot.

Dit was nie Anthony Caere, of #hotpilot soos hy vinnig op Twitter bekendheid verwerf het, se eerste reddingspoging nie. Volgens ʼn blogplasing op Virunga se webwerf, is Caere ʼn Belg en hoof van die park se lugvleuel. Hy dien ook as die “big broter in the sky” vir die natuurbewaarders.

Caere hou teenstropingspatrollies en help ook met sensusopnames vir die park. Hy het ook in ʼn Belgiese dokumentêr, Flying Doctors, verskyn oor drie dokters wat natuurbewaarders in Virunga bystaan. Hy het boonop ook ʼn groot ongeluk verlede jaar oorleef.

Caere se Instagram-rekening is vol inspirerende foto’s en video’s van die park se natuur- en wildlewe.

“Hierdie lyk oulik, maar dis eintlik ʼn baie hartseer storie,” het hy Woensdag geskryf by die video saam met Mussa. “Hy moet eintlik by sy ma wees.”

Lwiro het op Facebook gesê dit is die derde sjimpansee wat vanjaar gered word. Die organisasie versorg 72 sjimpansees, 92 apies en 11 verskillende spesies. Dit gaan glo intussen goed met Mussa – hy is dol oor tamaties en het reeds ʼn sterk band gevorm met sy versorgers. Hy word goed versorg en is geliefd. Lwiro het gesê die verwagting is dat hy een dag weer vrygelaat kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Meraai ·

Dit is die oulikste “lifter upper”wat ek in ‘n lang ruk gesien het. Dankie Maroela Media dat julle nie net die doom en gloom van die lewe publiseer nie. Ek sit nou sommer met ‘n warm gevoel in my hart.

Denise ·

Dit is baie oulik ek is so bly vir die mense wat omgee vir diere !!!!!

Ilse ·

So mooi as wat dit is, so hartseer maak dit my! Hy vertrou die mensdom so onvoorwaardelik & tog is dit tien teen een die mensdom wat sy familie uitgeroei het en gemaak het dat hy nou so alleen is en sonder sy mamma!
Dankbaar dat daar wel nog mense oor is wat omgee & weerlose diere red!!

Vanessa ·

Ag, is dit nie die mooiste nie! Wonderlik dat daar mense is wat soveel vir weerlose diere omgee.

Tess ·

Daar word gese dat jy en jou troeteldier ‘n spesiale band het en dan na mekaar lyk. Die twee lyk na mekaar(vriendelike gesigte), dis geen wonder hulle is dadelik lief vir mekaar nie. Die twee gaan sukkel om koebaai te se.

Theresa B ·

Dis baie dierbaar. So onskuldige ou dingetjie wat se lewe omver gegooi word deur mense. So bly daar is mense wat regtig omgee vir hulle en soveel liefde gee en “instaan” vir mamma. Hou aan met julle goeie werk. Julle beloning is/sal groot wees.

ZeeBee ·

Give that pilot a Bells ! Hartseer oor die wesie , maar so dankbaar dat hy gered kon word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.