Foto’s: Brak en kat reis te lekker saam

Henry en Baloo (Foto: henrythecoloradodog, Instagram)

Cynthia Bennett het in 2014 aanvanklik haar oog gehad op ʼn Golden Retriever, maar Henry, in daardie stadium net drie en ʼn half maande oud, het sommer vinnig diep in haar hart kom inkruip. “Hy was klaar vyf keer so groot soos die res van die werpsel, en hy het sulke lang bene gehad met die lyf soos ʼn wolf of ʼn husky,” vertel Cynthia aan The Dodo.

“Hy het sommer op my skoot kom opkrul, en met sy kop oor my arm geleun. Ek het sommer dadelik besluit hy is die een wat saam met ons huis toe kom!”

Cynthia en haar kêrel gaan stap graag en hulle het spesifiek na Colorado in die VSA verhuis sodat hulle oor naweke in die buitelug kon spandeer. Hulle was baie dankbaar dat Henry ook dol was oor dié stappery.

“Ek dink ons het hom vir drie dae gehad toe ons vir die eerste keer gaan stap het. Hy het die steilste, grootste klip gekies en vinnig tot bo gehardloop om die uitsig te bespied. Ons noem hom sommer ons klein steenbokkie!”

ʼn Paar maande gelede het die paartjie besluit om hul gesin uit te brei: “Ek wou graag ʼn katjie hê. Ek het vyf maande lank gesoek en na talle verskillende katte gekyk, maar nie een van hulle het die regte persoonlikheid gehad nie. Ek wou ʼn katjie hê wat saam met ons kon gaan kamp of gaan stap.”

ʼn Siamese katjie, Baloo, by ʼn plaaslike diereskuiling, het daarna haar oog gevang. “Hy het sommer dadelik na my toe gehardloop, en hy was die een wat gespeel het, maar hy was nie die rofste een nie.”

Baloo en Henry het ook sommer dadelik maats gemaak en knus saam geslaap. Baloo wou ook nie toelaat dat Henry alleen saam met die paartjie gaan stap nie. “As ek net aan Henry se leiband geraak het, het [Baloo] sommer dadelik by die deur begin skree. Hy laat gou van hom hoor!”

Cynthia het Baloo ook geleer hoe om met ʼn leiband te stap en Baloo het maklik daarby aangepas. “Hy hou regtig baie daarvan, hy hou baie daarvan om buite te wees. Hy is definitief nie die tipe kat wat ons oor ʼn naweek alleen by die huis kan los nie. Ek dink hy dink hy’s ook ʼn hond!”

Cynthia sê sy noem hulle broers, maar dit wil voorkom of Baloo dink Henry is sy ma.

Beleef die twee se avonture saam op hul Instagram-rekening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie ·

Lekker om gelukkige diere te sien! Hulle lewe is ‘n fees.

Lene ·

Ag dit roer nou mens se hartsnare! Betjie goeie nuus so tussen die slegte! Dankie MM

Johnnie ·

Lene ek stem saam met jou n bietjie vrolikheid van twee liefdevolle diere tussen hierdie deurmekaar gemors waarmee ons elke dag opgeskeep is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.