Foto’s: Brrrrrr! Kanada se gevriesde hare-kompetisie

(Foto: Chris Tudor/Facebook)

Een keer per jaar kan Kanadese met hul gevriesde haarstyle spog.

Die Takhini Hot Pools, sowat 24 minute se ry noord van Whitehorse, die hoofstad van Yukon en die grootste stad in noordelike Kanada, bestaan uit twee poele met water van 35 °C wat van diep onder die grond uitsypel. Dit is ryk in minerale, rooierig in kleur en het nie die swaelreuk wat gewoonlik by warmwaterbronne aangetref word nie. Die eerste houtpoel is in die 1950’s deur Amerikaanse weermag-ingenieurs gebou wat besig was met konstruksiewerk aan die Alaska-hoofweg. Die poele word daagliks leeggemaak, hervul en gefiltreer (dit neem ongeveer 14 ure) en is ʼn gewilde toeristebestemming.

Daar word egter jaarliks sedert 2011 elke winter ʼn spesiale kompetisie gehou: wie het die beste gevriesde hare? Daar is vyf kategorieë: beste man, beste vrou, beste groep, Tim Horton se Mees Kreatiewe haarstyl, en die Nongshim Noodles People’s Choice-toekenning. Elke kategoriewenner ontvang C$2 000 (sowat R25 000).

Deelnemers kan die poele enige tyd in die winter besoek (die kompetisieperiode is gewoonlik tussen Desember en Maart) wanneer die temperatuur minder as -20 °C is.

Hoe kry mens gevriesde hare? Sak af in die water en maak seker jou hare is heeltemal nat. Nou laat jy toe dat die ysige weer self haarkapper speel. Jy kan jou ore warm hou deur dit gereeld met die warm water nat te maak. Maar jy moet maar geduldig wees – jou hare (ook jou wenkbroue en wimpers) sal uiteindelik vries! Sodra jou hare spierwit is, kan jy die klok naby die ingang na die poel lui en dan sal personeel jou foto neem.

(Foto: HairFreezingContest.com)

Hier is ʼn paar trefferfoto’s uit vorige jare:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

Baie interessant. Ek sal dit nie kan doen nie – ek is te bang-san! Oulike paar pogings soos per fotos geplaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.