Foto’s: CT-skandering vir gorilla by Pta-hospitaal

Makokou terug by die Johannesburgse dieretuin (Foto: Johannesburg Zoo/Facebook)

Makokou, ʼn 34-jarige gorilla van die Johannesburgse dieretuin, het die afgelope naweek ʼn mediese ondersoek en ʼn CT-skandering by die Onderstepoort-veeartsenykliniek in Pretoria ondergaan.

Makokou, ʼn westelike laelandgorilla, ly aan ʼn chroniese neusloop en het nie op behandeling reageer nie.

Personeel by die dieretuin het in Mei hul kommer uitgespreek oor sy gesondheid en daar is bepaal dat hy ʼn CT-skandering moet ondergaan ná omvattende toetse bepaal het die gorilla het neuspoliepe. Medici is oortuig dit is die rede vir sy chroniese neusloop en waarom hy nie op roetinebehandeling reageer nie.

Onderstepoort se CT-masjien is sterk genoeg om die gorilla se 210 kg lyf te ondersteun. Meer as vyf mense moes help om die verdoofde Makokou van die draagbaar op te lig.

Zuid-Afrikaans-hospitaal het in ʼn plasing op sy Facebook-blad gesê van sy verpleegpersoneel was deel van die span wat Makokou behandel het. Die CT-skandering is gedoen om die omvang van neuspoliepe te bepaal wat by hom gediagnoseer is.

“Dit was ʼn gesamentlike poging tussen die mediese, veeartseny en lugvaartbedryf,” het die hospitaal verduidelik. “Twee van Zuid-Afrikaans-hospitaal se teaterverpleegsters, Marietjie Scheepers en Leonette Visagie, het prof. Gerhard Steenkamp en dr. Kobus Venter bygestaan tydens die endoskopiese ondersoek.” Die hospitaal het ook hulpbronne verskaf wat tydens die ondersoek gebruik is.

Steenkamp is ʼn veeartsenykundige tandarts en maksillofasiale chirurg en Venter is ʼn oor-neus-en-keelchirurg.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring en ʼn groot voorreg om te kon help,” het Scheepers, ʼn groot diereliefhebber, gesê.

“Sy vel voel soos leer en hy het ʼn yslike groot bors, beenagtige kop en groot hande. Dit was ʼn wow-ervaring gevul met adrenalien,” het Visagie bygevoeg.

Die uitslag van die ondersoek sal die Johannesburgse dieretuin help met hul beplanning om die neuspoliepe by die Johannesburgse dieretuinhospitaal te verwyder. Dieselfde span sal oor drie weke weer bystand lewer tydens die prosedure.

Makokou vier op 9 Julie sy 35ste verjaarsdag.

Die dieretuin het Maandag bevestig alles het goed verloop en hy is veilig terug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.