Foto’s: Die dinosourusse neem oor!

Die dinosourusse teken op die muur

Die dinosourusse teken op die muur

Foto’s volg onderaan die berig. Refe en Susan Tuma van Kansas City in Amerika het verlede jaar, toe hulle nagte lank wakker gebly het saam met hul eenjarige, wat gesukkel het om te slaap, besluit om “Dinovember” vir hul ouer kinders te skep.

Die egpaar het die eerste aand dinosourus-speelgoed op die badkamerkassie staangemaak met tandeborsels in hul handjies. “Toe my dogter, wat in daardie stadium vier jaar oud was, by ons slaapkamer in hardloop, het sy gesê die dinosourusse het deur die nag lewendig geword,” het Refe gesê. “Hulle het hul tande geborsel!” Die egpaar het glo vir mekaar gekyk en geweet hulle moet hiermee voortgaan.

Elke aand gedurende November, nadat hul kinders (onderskeidelik ses, vyf en twee jaar oud en ʼn een maandoue baba) gaan slaap het, het hulle ʼn toneeltjie met die dinosourus-speelgoed geskep.

Die dinosourusse het intussen al in ʼn orkes gespeel, hulself in toiletpapier toegedraai, skottelgoed gebreek, kos verslind en ʼn Teenage Mutant Ninja Turtle-speelding gyselaar gehou.

Die egpaar het onlangs met ʼn spuitverfkannetjie op die muur geteken en die dinosourusse daarby laat staan. Hul sesjarige dogtertjie was glo baie bekommerd dat hulle nou van die speelgoed ontslae moet raak omdat hulle so stout is. “Moenie bekommerd wees nie, hulle is net dinosourusse. Hulle weet nie van beter nie,” het haar ouers haar verseker.

Tuma erken dit is soms moeilik om nie te begin lag nie.

Die egpaar het intussen ʼn blad op Facebook geskep waar die dinosourusse se avonture gepubliseer word. Dié blad het reeds meer as 236 000 “likes”. “Ons het baie pret!” het Tuma gesê.

Hulle nooi nou ook ander ouers uit om dieselfde te doen, en foto’s daarvan aan hulle te stuur.
Klik telkens op die foto om ‘n groter weergawe daarvan te sien of besoek die egpaar se Facebook-blad of blog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.