Foto’s: Dié man laat jou by ʼn begrafnis glimlag

Ross Hall van Dying Art by van sy skeppings (Foto: Dying Art/Facebook)

Ross Hall van Nieu-Seeland het ʼn groot verskeidenheid ontwerpe van doelgemaak word vir mense wat ná hul afsterwe hul kreatiwiteit wil wys.

Hall se maatskappy, Dying Art, het in 2003 sy deure oopgemaak om doelgemaakte kiste te vervaardig as ʼn manier hoe vriende en familie die lewe van hul geliefde kan vier. “Oor die jare heen het ons baie positiewe terugvoer gekry van familielede wat verduidelik hoe die verpersoonlikte kis die hele luim van die roudiens verander het,” sê Hall.

“Op ʼn manier was dit makliker om Ma te groet in iets wat só mooi is,” lui ʼn boodskap van een van Hall se kliënte. “Mense was verstom oor die kis – niemand het al ooit só iets gesien nie,” skryf ʼn ander.

Dying Art se kiste word landswyd in Nieu-Seeland verkoop. Jy kan die reëlings tref deur jou begrafnisondernemer of ʼn doelgemaakte kis direk by Hall bestel. Hy vervaardig ook kissies met spesiale ontwerpe waarin die as van die oorledene gehou kan word.

Seiljag (Foto: Dying Art/Facebook)

Hall se ontwerpe sluit ook ʼn oliebol, seiljag, brandweerwa, blok sjokolade en Lego-blokkies in. Daar was al kiste wat met kostuumjuwele bedek is, ʼn kis wat geïnspireer is deur The Matrix-fliek en talle kiste wat mense se gunstelingstrande en vakansiebestemmings uitbeeld.

“Baie mense is tevrede met ʼn bruin houtkis, en dis heeltemal in orde, maar as hulle iets spesifiek wou doen, is ek hier vir hulle,” sê Hall.

Hy het oorspronklik met die idee vorendag gekom toe hy sy testament opgestel en aan sy eie begrafnis gedink het. “Hoe wil ek die lewe verlaat?” het hy gedink. “En toe skryf ek in my testament dat ek ʼn rooi kis met vlamme daarop wil hê.” Ses maande later het hy met begrafnisondernemers begin gesels en mettertyd het die idee posgevat om doelgemaakte kiste te vervaardig.

Afhangend van jou ontwerp kan só kis jou tussen NZ$2 100 en NZ$5 400 (tussen R21 000 en R55 000) uit die sak jaag.

Klik hier om Dying Art se webwerf te besoek vir nog stories en ontwerpe of besoek sy Facebook-blad.

We couldn't be prouder to have honoured our dear cheerful, fun-loving cousin's personality by building and handcrafting…

Posted by Dying Art on Sunday, February 14, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Helene ·

Like that….what would mine be…….Coffee & chocolates!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.