Foto’s: Die wêreld se eerste onderwaterhotel

Muraka Foto: Conrad Maldives Rangali Island

Conrad Maldives Rangali-eiland is besig om ʼn luukse $15 miljoen-tweeverdiepinghotel te bou, waarvan ʼn gedeelte byna vyf meter onder die see sal wees.

Die eiendom, die eerste hotel onder die see, sal na verwagting in November sy deure oopmaak. Die hotel, Muraka (“koraal” in die plaaslike taal), sal aan gaste ʼn “intieme ervaring van een van die mees asemrowende marieneomgewings” bied. Daar is ʼn gimnasium, kroeg, swembad en ʼn slaapkamer onder water.

Die ondersese suite word met spiraaltrappe aan die boonste vlak verbind.

“Ons is opgewonde om Muraka se unieke slaapervaring aan ons gaste te bied. Dit sal ʼn buitengewone perspektief bied op die Maledive,” het Stefano Ruzza, algemene bestuurder van die Conrad Maldives Rangali-eiland, gesê.

Tot nege persone sal in die Muraka kan oorslaap en die konstruksie word behartig deur MJ Murphy Ltd.

Dit is Conrad Hotels & Resorts se tweede poging in onderwater-argitektuur en -tegnologie. Die eerste was die Ithaa-ondersese restaurant, wat 13 jaar gelede sy deure oopgemaak het en deur dieselfde Nieu-Seelandse konsultante behartig is.

Gaste sal minstens $50 000 (meer as R620 000) moet opdok vir ʼn nag onder die see.

“Die Muraka bied ʼn unieke ervaring wat nêrens anders in die wêreld beskikbaar is nie,” het argitek Ahmed Saleem verduidelik.

Gaste sal met ʼn privaat seevliegtuig na die eiland gevlieg word en met ʼn boot verder vervoer word. Die suite is afgesonder van Conrad se strandvillas en inwoners sal dus glad nie ander mense sien as hulle nie wil nie. Die prys sluit vier diensknegte, ʼn sjef en fiksheidsinstrukteur in. Gaste kry ook elke dag ʼn 90 minuut lange spa-behandeling.

Die struktuur is gemaak van staal, beton en akriel, met een vlak bo die water en die tweede vlak onderwater. Die boonste vlak het twee slaapkamers en ʼn badkamer met ʼn bad wat op die see uitkyk.

Die koninggrootte slaapkamer en leefgedeelte is onderwater. Die badkamer het ʼn deursigtige dak en mure en voel byna soos ʼn vistenk.

Saleem het met marinebioloë saamgewerk om seker te maak dat die hotel nie die omliggende korale sal beïnvloed nie. Die 600 ton-struktuur is op die grond in Singapoer gebou en met ʼn hyskraan opgelig, met ʼn spesiale skip na die koraalrif vervoer en onderwater geplaas.

Gaste kan reeds onderwater bly by hotelle soos die Manta Resort op Pemba-eiland en Atlantis, The Palm in Dubai, wat kamers het wat op ʼn reusagtige akwarium uitkyk. Resort World Sentosas in Singapoer bied ook tweeverdieping-suites wat op ʼn akwarium uitkyk, maar die Muraka sal die eerste werklike onderwater “woning” wees, en tegnologies ongetwyfeld die mees gevorderde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Amelia ·

Aijaijai, is ek die enigste mens wat dink dat die ryk mense nou weer speel waar ons as mense nie hoort nie? Rerig man, nerens kan die mens uitbly waar hul nie hoort en op die end gaan die natuur ten gronde.

Meraai ·

Daar haal jy my gedagtes ook aan. Self gewonder ons arme mense sal net kan droom waar die rykes weer kan slaap.

Tess ·

Die naaste wat ons daaraan kom is ‘n vistank langs die bed met ‘n tuna broodjie(wat ons self maak)

Lynette ·

Ek sal nie n oog kan toemaak as ek weet my. bed vir die aand kan al die diere in die DBV’s regoor die land vir maande kan voed nie :-(

Iche ·

Ja,daai duur “onderaardse vistenk” , luukse suite het boonop geen privaatheid nie …,ingeval mens ‘n uiltjie
(of iets) sou wou knip… Nee wat Dankie.
Hou verby!

Nico ·

Absoluut pragtig! Sal wat wou gee om daar vakansie te kan hou.

Vermeendes ·

As jy meer geld as die hotel wil maak, bied n duikkursus aan…..lol.

Yankee ·

Verseker die kleinste hotel ter wereld. $15 miljoen is kleingeld. My 5 slaapkamer huis in Los Angeles het ek so pas verkoop vir $12.6 miljoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.