Foto’s: ‘Ek wens my juffrou het geweet…”

Kyle Schwartz Foto: Twitter

Kyle Schwartz Foto: Twitter

ʼn Onderwyseres van Colorado in Amerika wou graag haar leerlinge beter leer ken, maar sy was glad nie voorbereid op dit wat sy uitgevind het nie.

Kyle Schwartz (28) is ʼn onderwyseres by ʼn laerskool in Denver en talle van haar leerlinge word in minder bevoorregte huise groot. “As ʼn nuwe onderwyseres het ek gesukkel om die realiteit van die kinders se lewens te verstaan, of hoe om hulle te ondersteun,” het sy aan die Denver Post gesê.

Schwartz het vir die leerlinge gevra om die sin: “Ek wens my juffrou het geweet…” te voltooi en meeste van die briefies is hartverskeurend. Sy het intussen van die briefies op Twitter gelaai onder die hutssleutel #IWishMyTeacherKnew en dit versprei soos ‘n veldbrand.

“Ek het ‘n groot reaksie van mense af gekry wat iets wou doen,” het sy bygevoeg. “Mense wil weet wat hulle kan doen.” ‘n Skenkingsentrum is as gevolg van haar poging beskikbaar gestel.

Hier volg van die briefies:

“Ek wens my juffrou het geweet dat ek nie ʼn maatjie het om mee te speel nie.”

“Ek wens my juffrou het geweet ek het nie potlode by die huis om my huiswerk mee te doen nie.”

“Ek wens my juffrou het geweet hoeveel ek my pa mis, want hy is na Mexiko gedeporteer toe ek drie jaar oud was en ek het hom ses jaar gelede gesien…”

“Ek wens my juffrou het geweet my leesboek is soms nie geteken nie, omdat my ma selde tuis is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Irma van Aarde ·

Onderwysers het klei in hulle hande – in wat vorm jy dit?

Kaalvoet Tysie ·

Irma, ek verskil effens van jou of ek verstaan jou verkeerd. OPVOEDING moet deur ouers by die huis gedoen word. Dan kan onnies daarop bou en afrond. Alhoewel hulle n groot rol speel, kan onderwysers nie alleen verantwoordelik gehou word vir leerlinge se vorming nie.

Anne ·

Ek stem 100% saam met Irma! “n Onnie kan ‘n kind maak of breek! en ek praat nie van opvoed nie, ja dit hoort by die huis, maar onderwysers weet nie wat die omstandighede by die huis is nie…. Kinders kry detensie inskrywings omdat ouers nie die vereiste “Flip File” kon koop voor die einde van die maand nie, en dit voor die hele klas! NEE!! 10 uit 10 vir hierdie onderwyseres!!!

Wally ·

‘n Onderwyser het ‘n geweldige invloed op kinders en moet dit tot hul voordeel aanwend. Ook moet sy/haar optrede altyd so wees dat die kinders hom/haar kan vertrou. Dit geld vir laerskool sowel as hoërskool kinders.

RK ·

Ek dink dis ñ puik idee van haar kant af. Alle onderwyser moet dit implimenteer. Hul besef nie altyd hoe groot invloed hul het in die jong kinders se lewens nie…

Frieda Summers ·

Ai tog uit die mond van die suigeling hoor jy die waarheid! My hart word so seer as mens hoor wat party kindertjies deurgaan xxx

Peet Schabort ·

My juffrou het in graad 1 vir my ‘n KABOUTER belowe.
Juffrou! JUFFROU!! WANNEER KRY EK MY KABOUTER !!??
(Voorgaande is nie uit my duim gesuig).

magriet ·

Peet, hier in my tuin bly baie kabouters. waarheen kan ek vir jou enetjie versend?

Eliza-beth ·

Ai.. mens moet maar sluk aan die knop in mens se keel. Uit die mond van suigelinge en kinders kom die waarheid ne? Party het my sommer hardop laat lag – veral die ene wat meer pouses en vars lug as stink klaskamer lug vra – nou net ‘n kind kan so-iets uitdink en kwytraak! : D

Hannelie Horn ·

Sjoe uit die mond van die suigeling…….Ek haal my hoed af vir elke onderwyser wat ‘n invloed op kinders het. Dinge wat julle hul leer, want ouers werk en het nie almal die geduld nie. Vandag moet hul hare op hul tande hê en BAIE geduld!!! Sterkte aan al ons onnies. Ons waardeer julle!!

JP ·

Ek het groot geword met n enkel ouer wat skofte gewerk het in die polisie, teen hoerskool kon ek sekere belanrike goed nie meer bekostig nie, toe vind my voog juf daarvan uit en help my deur donasie van R2 by elke onderwyser in die skool te gaan vra en vir my die nodige goedere vir skool te koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.