[Foto’s] Elfde bruid trou met dié rok

Abigail Kingston Foto: Kelly McEwan/NJ Advance Media/Landov

Abigail Kingston Foto: Kelly McEwan/NJ Advance Media/Landov

Vir Abigail Kingston (30) van Pennsilvanië in Amerika was daar net een trourok: die een wat haar ma en nege ander familielede reeds gedra het.

Dié erfstuk is al 120 jaar in die Kingston-familie en Abigail se oer-oumagrootjie het in 1895 die rok vir die eerste keer gedra. Die rok is van geslag na geslag oorgedra en ʼn bruid het laas in 1991 daarmee getrou.

Lehigh Valley Live, ʼn nuuswebwerf in Pennsilvanië, het gesê die rok het begin disintegreer weens ouderdom. Die rok was vol gate en die satyn onaantreklik bruin. Deborah LoPresti, ʼn trourokontwerper, het 200 ure spandeer om wysigings aan te bring, insluitend om die kleur te verander en nuwe moue aan te sit.

Weens die delikaatheid van die rok sal Abigail die rok slegs tydens die skemerkelkie van haar troue dra. Sy het ʼn ander rok vir die seremonie. Abigail en haar verloofde, Jason Curtis, trou op 17 Oktober in Bucks County.

Leslie Kingston, Abigail se ma, het aan Lehigh Valley Live gesê dit is meer as net ʼn rok wat oorgedra word. “Dit is die liefde. Wie sou ooit kon dink enigiets kan so lank bestaan?”

Abigail sal ook ʼn hangertjie van haar ouma aanhê en haar oumagrootjie se ring.

Boonop is daar glo reeds ʼn 12de familielid wat al navrae begin doen het oor die rok.

Lees meer: Lehigh Valley Live

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frances Jooste ·

Wat ‘n kosbaarheid. Tradisie gee kwaliteit aan ons lewens. Dankie vir die plaas hiervan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.