Foto’s en video: Pou mag toe nie saamvlieg nie

Foto: The Jet Set, Facebook

United Airlines het geweier dat ʼn pou saam met sy eienaar vlieg.

Dit is al wat ons tot dusver weet, danksy ʼn persverklaring deur United Airlines en ʼn reisigerprogram, Jet Set.

Of dit ʼn werklike poging was deur ʼn passasier wat gedink het dit sal in orde wees om saam met só groot voël (in ʼn vliegtuig) te vlieg, boonop ʼn dier wat bekend is dat hy temperamenteel kan wees, en of dit net ʼn foefie was, is nog nie duidelik nie.

Volgens berigte was die pou die vrou se ondersteuningsdier. Live and Let Fly het vroeër berig die pou is toegang geweier, selfs al het die onbekende vrou ʼn tweede vliegtuigkaartjie vir die pou gekoop.

United Airlines het in die verklaring gesê die lugredery het toegang vir die passasier en dier geweier, omdat die pou versuim het om aan verskeie riglyne te voldoen, insluitend gewig en grootte. Die lugredery het ook aangedui dat die vrou nie “nee” vir ʼn antwoord wou aanvaar nie. “Ons het, voor die klant by die lughawe opgedaag het, in drie afsonderlike boodskappe aan haar verduidelik dat ons nie die dier sal kan aanvaar nie.” Die lugredery het ook aangedui dat passasiers minstens 48 uur voor ʼn vlug behoorlike dokumentasie van ʼn mediese praktisyn moet verskaf wat aandui dat die passasier ʼn behoefte het aan ʼn dier.

Die Jet Set het ʼn video en foto’s op sosiale media gelaai wat wys hoe die voël by Newark Liberty Internasionale Lughawe in New Jersey, VSA aankom. Die program is van voornemens om binnekort ʼn gesprek te voer oor diensdiere.

Bobby Laurie, ʼn mede-aanbieder van Jet Set, het gesê ʼn passasier by die lughawe het die foto’s aan hulle verskaf. ʼn Ander passasier het ʼn video van die pou en sy eienaar aangestuur.

Laurie, ʼn voormalige vlugkelner, het gesê hy het met verskeie lugwaardinne en vliegtuigpersoneel gesels wat gesê het die vrou het ʼn paar keer vantevore ook probeer om saam met die pou te vlieg – insluitend ʼn poging van JFK (New York), waar sy ook weggewys is.

Die vrou het by Newark ʼn terugbetaling ontvang vir haar vliegtuigkaartjie en die lugredery het selfs haar taxigeld betaal om na haar hotel terug te keer.

“Ek dink regtig die hele ding rondom emosionele-ondersteuningsdiere ruk handuit,” het Laurie Dinsdagmiddag in ʼn onderhoud gesê. “Daar is natuurlik mense wat dit regtig nodig het, maar dit wil voorkom of baie mense nou kyk wat hulle kan doen en waarmee hulle kan wegkom. As ʼn vlugkelner het ek self iemand gehad wat met ʼn vark en ʼn kalkoen op die vliegtuig wou klim.”

Volgens Laurie het die vark homself goed gedra, maar nie die kalkoen nie.

“Ons het nooit eintlik ʼn situasie gehad waar ʼn situasie met ʼn emosionele ondersteuningsdier ʼn probleem was nie, buiten ʼn kat. Die kat het ontsnap en in die kajuit rondgehardloop,” het Laurie verduidelik. “Gelukkig was dit net ʼn kat.”

United Airlines het gesê hy hersien sy beleid rondom ondersteuningsdiere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Liefie ·

Ek weet ek sit my voet nou in n ding maar niks in die wereld irreteer my meer as mense wat hulle diere orals saam sleep nie en wyd en suid vertel dat die diere hulle kinders is. Ek kan verstaan as jy lief is vir diere (ek het self n hele paar) maar genade alles het n tyd en n plek. Dit gaan my verstand te bowe dat mense noem dat hulle emosioneel afhanklik is van hulle diere. Ek is baie jammer as jy n hond kat of gedrog nodig het om emosioneel OK te wees dan is daar groot fout met jou.

Andrea ·

Ek vat my hond orals saam. En sys baie beter gemanierd as baie kinders en baie beter geselskap as baie mense.

V ·

Mag die punt as volg uitgedruk word…? Hou vir kokkie by die huis as jy vlieg… Jy vlieg saam met ander mense…

Piet Snot ·

Liefie, jy’s reg: ‘n hond is ‘n hond, ‘n hoender is ‘n hoender. Hulle is goeters, nie mense nie.
Ek’s baie lief vir honde, maar as mens se bestaan van hulle afhanklik word, moet jy jou kop dringend laat lees.

Oop oge ·

Amen …die beste antwoord ooit !
Dis net plain logika… common decency…

Johan ·

Pragtige Pou maar ek dink soms probeer mense net aandag soek op alle snaakse maniere !

countryboy ·

Hahahahaha lekkkkkker lag ek nou vir Richard ek more amper my koffie uit…en Lief ie jy is heeltemal reg en ek is bly om te sien dat ek nie die enigste een is Wat soos jy voel nie…Ek hou ook van diere maar party mense vat dit net te ver….as hul net die helfde van die aandag Wat hul aan diere spandeer aan hul naaste spandeer sal die wereld n baie beter plek wees…

joanie ·

Liefie en Countryboy, hoe meer mense ek sien, hoe meer hou ek van my honde!! En dit is my eie keuse om meer aandag aan my honde te spandeer as aan my “sogenaamde” naaste. Al wat ek aan my naaste wil doen is om hulle iets aan te doen as hulle hulle troetediere en veral hulle honde verwaarloos en mishandel.

V ·

Dis waar Joanie. Die probleem is dat mense snaakse goed is… Eendag vind jy jouself op ‘n vlug met Jose, ‘n Latyns Amerikaanse veghaan kompioen. Sy baas, Eduardo; voer ook aan dat Jose sy gemoedere lig, en dat Jose nie anders as die sitplek langs jou moet vul nie. Wat niemand weet nie is, dat Jose sedert hy sy kammetjie oor sy neus kon stoot ander hane in die ondergrondse haangevegte dood, en ‘n ernstige kompleks ontwikkel het, toe hy mense sien hoender eet. Min wetend kies jy die hoender opsie. En nou sit en bewe Jose met een oog op jou, terwyl jy jou hoendertjie rustig kerf. Nou is die vet in die vuur. Eduardo het nie genoeg hande om te keer terwyl Jose jou takel nie. As Jose my sou takel, is hy ‘n seleksie op die spyskaart, op die volgende vlug . Hoe moet Eduardo nou voel, nadat sy vriend sy einde so moes ontmoet? Geen probleem met troetel varkies, giggel hasies en sagte hondjies nie. Die probleem is, mense is snaakse goed…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.