Foto’s: Groot pret by nuwe selfie-museum

(Foto: Youseum/Facebook)

ʼn Nuwe “selfie-museum” in Swede keer dinge op sy kop: besoekers is nou die kunstenaar en die uitstalling.

Die “Youseum” in Stockholm het nie enige kunswerke op sy mure nie. Die helderkleurig versierde vertrekke is eerder ʼn prettige agtergrond vir besoekers se selfies en video’s.

“Jy kan cool foto’s neem en oulike inhoud vir jou Instagram skep. Dit is die perfekte plek om ʼn TikTok-video te verfilm,” het bestuurder Sofia Makiniemi aan AFP gesê terwyl sy met die “Emoji Room” spog gevul met blou en geel balle met glimlagte en fronsende gesigte.

In ander vertrekke kan jy jouself begrawe in lekkergoed-kleurige skuimstokke, onder neonligte poseer of in ʼn yslike groot pienk swaai sit vir jou volgende profielfoto.

“Mens het beligting, TikTok-musiek, snoepgoed … alles waarvan ons hou,” sê die 18-jarige Zeneb Elmani, wat die museum saam met ʼn groep vriende besoek het. Sy is dol oor die “2020’s-era” gevoel.

Vir Makiniemi laat die Youseum, wat in ʼn winkelsentrum geleë is, die besoekers toe om self kunstenaars te wees. Selfs al sou die tipiese beïnvloeder nie hul foto’s as kuns beskou nie.

“Dit is ʼn interaktiewe museum waar jy self die kuns kan skep wat jy wil sien,” voeg sy by.

Die Youseum-konsep het in Nederland begin, waar daar reeds twee is.

Dit blyk dat sosiale media al hoe meer alomteenwoordig is en daar is kommer oor die gevare daarvan – veral die impak op die geestelike gesondheid van jongmense, veral meisies. “Dis ʼn groot deel van ons samelewing vandag. Hoekom sou ons dit nie bietjie meer kreatief wou maak nie?”

ʼn Groep jong vroue wat die museum besoek het toe AFP ook ingeloer het, was selfs nog minder besorg oor ʼn donker kant of buitensporige narsisme.

“Ek dink hierdie plek is oulik vir mense wat graag foto’s neem – soos my vriende. Dit is só oulik,” sê die 18-jarige Chaymae Ouahchi.

Ouer generasies kan dalk spot met die idee van ʼn museum wat toegewyd is tot die skynbare selfvoldane praktyk om foto’s van jouself te neem, maar die 70-jarige prof. Bill Burgwinkle, wat die museum saam met sy tiener-susterskind bygewoon het, sê mens moet dit omhels. “Dis te laat om bekommerd te wees. Dit is die manier hoe die wêreld nou is,” het hy gesê. Volgens hom dien die onortodokse museum sy doel.

Klik hier om die webwerf te besoek

Nog foto’s is op die Youseum se Facebook en Instagram-profiele beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Daar bestaan reeds soortgelyke plekke in Suid Afrika, bv Instanation

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.