Foto’s: Hoe ver kan jy jou vrou dra?

Foto: Trionium.com

Talle egpare weet daar is goeie en slegte dae in ʼn huwelik, maar dalk nie enigiets soos wat met dié paartjie gebeur het nie. ʼn Deelnemer aan Engeland se jaarlikse vrou-dra-kompetisie het op sy vrou se kop geval.

Kate Burke is met ʼn draagbaar weggedra nadat haar man Sondag op ʼn modderige heuwel gegly en op haar beland het. Die egpaar het deelgeneem aan die “Estonian carry”, ʼn wedloop van 380 meter waar ʼn vrou onderstebo aan haar man se rug vasklou – met haar bene oor sy skouers.

Dit het vroeg die oggend gereën en die hindernisbaan in Dorking, Surrey, was dus modderig en glad en toe mnr. Burke by die “soak zone” aankom, waar toeskouers hulle met water natgooi, het hy gegly, geval en op sy vrou se kop beland.

Toeskouers het toegekyk toe mev. Burke, “Eina! My rug!” geskree het, terwyl sy op die grond gekrul het van die pyn. Sy is daarna na ʼn hospitaal geneem. Sy het haar ligamente beseer en kneusplekke opgedoen, volgens ʼn verklaring op die kompetisie se webwerf. Sy sterk aan.

Robert McCaffrey, organiseerder van die wedloop, het self aan die wedloop deelgeneem. “Dit was nogal moeilik, en daar was gladde dele ná vanoggend se reën. Hulle was baie ongelukkig om te val, en selfs nog meer ongelukkig om ʼn besering op te doen.”

Hy het gesê daar word van alle deelnemers vereis om ʼn valhelm te dra, en alle deelnemers word gewaarsku dat dit moontlik ʼn gevaarlike aktiwiteit kan wees.

Ongeveer 40 egpare, van die Verenigde Koninkryk en selfs VSA en Litaue, het aan die kompetisie deelgeneem. Chris Hepworth en Tanisha Prince van West Drayton, Londen, het vanjaar se wedloop gewen in ʼn rekordtyd van 1:37. Hulle het onderneem om in Julie aan die wêreldkampioenskap in Finland deel te neem. Deelnemers hoef nie noodwendig getroud te wees nie.

Die wenner van die wedloop wen ʼn vaatjie plaaslike bier (waarde ongeveer £150). As die eerstepryswenners van Engeland is, wen hulle ook £250 vir uitgawes om Engeland tydens die wêreldkampioenskap in Julie in Finland te verteenwoordig.

Die paartjie wat laaste eindig, ontvang ʼn seremoniële bakkie pasta en hondekos.

Die persoon wat die wedloop met die swaarste vrou voltooi, wen ʼn pond wors (vir krag) en ʼn seremoniële klap op die rug van ander deelnemers.

Die oudste deelnemer wen ʼn blikkie Pilchards en Bovril.

Volgens die organiseerders het die kompetisie al in 793 v.C. begin toe Viking-plunderaars plaaslike vroue ontvoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

pieter ·

Wonder ek nou of ek en vroulief die ding sal kan doen … of is ons deel van die six-pack agtergeblewenes?

Danie ·

Ek vermoed as die antwoord op die vraag is hang af hoeveel sy weeg: Jy en die hond op voornaam terme gaan wees en die hond met jou begin praat.

Bokkie ·

My vrou – jou vrou gaan nie baie lief wees vir jou as sy weet jy sê sy’s dik nie! Ha ha ha

jean ·

My arme man!….Hy gaan nat skouers hê…ek gaan my doodlag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.