Foto’s: Hond 220 km van kuslyn gered

Boonrod Foto: Vitisak Payalaw/Facebook

Werkers op ʼn olieboor, ongeveer 220 km van die kus van Thailand, het ʼn verdwaalde hond uit die water gered.

Vitisak Payalaw en sy bemanning het iets in die water sien dobber – dit was ʼn hond.

Die hond het teen die bewegende water probeer baklei, op pad na die olieboor. Toe hy die struktuur nader, het Payalaw, ʼn werknemer van die Chevron Thailand Exploration and Production, ʼn paal na hom toe uitgesteek. ʼn Video, wat Payalaw op sy Facebook-blad gedeel het, wys hoe die druipnat hond besig is om te verkluim, te moeg om te blaf of enige ander geluid te maak.

“Sy oë was so hartseer. Hy het na ons gekyk asof hy wou sê, ‘help my asseblief’,” het Payalaw aan CNN gesê. “In daardie oomblik, maak nie saak wie hom sou sien nie, sou mens hom wou help.”

Die bemanning het geweet hulle moet vinnig reageer. Die golwe was besig om teen die olieboor te klots en die hond sou vinnig meegesleur word in die water.

“Ek het besef as ons nie vinnig sou reageer nie, sal ons hom nie kan help nie,” het Payalaw verduidelik. “As hy sy greep sou verloor, sou dit baie moeilik wees om hom te red.”

Boonrod Foto: Vitisak Payalaw/Facebook

Vier lede van die bemanning, insluitend Payalaw, het 15 minute lank probeer om ʼn plan te beraam om die dier tot op die olieboor te help. Hulle het uiteindelik ʼn tou om sy nek gebind en hom tot op die dek opgehys.

Volgens NPR het die olieboorwerkers vir hom water en stukkies vleis gegee om te eet. Hulle het toe op die naam “Boonrod” besluit, wat beteken “hy het goeie karma en dit het hom gehelp om te oorleef”.

“Hy was so moeg, hy het glad nie meer energie gehad nie. Hy het nie baie beweeg nie,” het Payalaw aan CNN gesê. “Hy het gebewe en kon nie staan nie. Hy moes die heeltyd sit.”

Hoe die hond in die middel van die Golf van Thailand beland het, bly ʼn raaisel. Volgens die Bangkok Post het Boonrod moontlik van ʼn ander vaartuig in die water afgespring of afgeval.

Hy is Maandag na Thailand geneem waar ʼn veearts hom ondersoek het, aldus die Times of London.

Die diereregtegroep Watchdog Thailand het foto’s gepubliseer waar ʼn krans met gousblomme om sy nek gebind is, ʼn simbool van geluk en om hom te verwelkom.

Volgens die Associated Press gaan dit goed met Boonrod.

Dié goeienuusstorie is wyd op sosiale media gedeel. Payalaw se oorspronklike Facebook-plasing is meer as 23 000 keer gedeel met meer as 7 300 kommentare. “Ons kort só storie elke dag!” het iemand gesê.

Payalaw het aan NPR gesê hy sal graag self Boonrod wil aanneem as sy eienaar nie na vore kom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Willie ·

Welgedaan, arme dier was seker so bang…. net bly hulle kon die woef kind red!

Boonrod jy is pragtig ·

Boonrod ek is bly jy is gered, dit moes ‘n verskriklike ervaring vir jou gewees het. Ek wens ek kan jou nou vasdruk en vertel jy is ‘n goeie hond, mag jou lewe verder gelukkig wees met lekker kos, ‘n warm slaaplek en oorvloedige mense liefde.

Linda ·

Ag moeder, kyk hoe lag hy van lekkerte! So bly hy kon gered word!

Juané ·

Baie dankie Maroela Media. Ons smag na meer sulke goeie nuus.

Sandy ·

Boonrod jy is ‘n lieflike hond aldus die eerste foto hier. Ons het ook’ n hond aangeneem wat deur die NSRI uit die see gered is. Die storie laat my aan hom dink. Boonrod jy gaan ‘n fantastiese lewe he met jou nuwe eienaar.

Klopjag ·

Daai oë net na hulle hom uit die water gehys het! Dit slaan diep! Laat ‘n groot man sommer ‘n traan pik!

Baie bly Boonrod het ‘n gelukkige einde aan sy beproewing gehad! Mooi so, oubaas se honne!

Boerboel ·

Baie mooi en gelukkige einde, Hoop jy kry nou n’ goeie huis en lekker kos. Jy is sowaar n’ yster om dit te oorleef!

Ma van vier dierbare honde ·

Ek is so dankbaar dat die pragtige hond gered is. As daar iets op aarde is wat die lewe die moeite werd maak, is dit ‘n hond. My hart is gedurig seer oor al die dieremishandeling waarvan ‘n mens hoor. Hierdie storie laat my bietjie beter voel.

Lina Smit ·

❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤ vir die mense wat hom gered het

Heidi ·

Di artikel het sommer my dag gemaak. Well done vir di manne wat hom gered het.

Jeanette van Rooy ·

Wat ‘n wonderlike heldedaad van die manne op die olieboor om die arme reddelose dier te red. Dit doen my hart so goed om sulke positiewe nuus te lees!????

Bloudrom ·

Snaaks genoeg ek het dieselfde ondervinding gehad. Die hond wat ek gered het eas ook 200 km van die kus……..net binneland toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.