Foto’s: Hond en jagluiperd is beste maats

Kago die geel labrador retriever en Kumbali die jagluiperd (Foto: Metro Richmond-dieretuin/Facebook)

Jagluiperds het ongekende krag in die diereryk as mens na hulle spoed kyk, maar hulle is eintlik baie sensitiewe diere. Hulle kan baie angstig raak wanneer hulle met ander diere moet sosialiseer en hulle vermy dit gewoonlik.

Alhoewel Noord-Afrika en Asië jagluiperds reeds as “kritiek bedreigde” diere beskou, ag die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se rooi lys van bedreigde spesies hulle slegs as “kwesbaar”. Daar is ʼn geraamde 7 000 wilde jagluiperds oor en hulle getalle het die afgelope paar jaar in Afrika met sowat 90% afgeneem. Hul skuheid is egter nie die enigste rede vir die daling in bevolkingsgetalle nie – ʼn verlies aan habitat, gebrek aan prooi en kwesbaarheid vir jagters het die spesie se risiko verhoog om uit te sterf.

Metro Richmond-dieretuin in Virginia in die VSA poog om jagluiperds se angsvlakke te laat daal tussen ander diere. Hulle het hul jagluiperd, Kumbali, voorgestel aan ʼn geel labrador retriever, Kago. Kago tree op as die groot kat se “emosionele ondersteuningsdier”.

“Dit lyk of Kumbali en Kago nie eers die verskille in spesie, grootte of kleur sien nie,” sê ʼn woordvoerder vir die dieretuin. “Hulle aanvaar mekaar. Die unieke vriendskap het al die harte van miljoene mense aangegryp.”

Kago die geel labrador retriever en Kumbali die jagluiperd (Foto: Metro Richmond-dieretuin/Facebook)

Die twee is in Julie 2015 aan mekaar voorgestel toe hulle maar twee maande oud was – en hulle is sedertdien onskeibaar. Hulle bly saam in een kamp en Kumbali en Kago speel en eet saam voor hulle knus langs mekaar gaan lê wanneer hulle moeg is.

“Hulle het ʼn sterk broederlike band. Kago is die baas, selfs al is Kumbali byna twee keer so groot.”

Kumbali is in Mei 2015 gebore en was die kleinste van sy werpsel. Hy is deur bewaarders in die dieretuin grootgemaak om sy kans op oorlewing te verhoog. “Terwyl sy sibbe gewig opgetel het, het hy gewig verloor. Personeel was baie bekommerd en het ontdek dat die ma slegs twee tepels het waarmee sy drie welpies moes voer. Ons was dadelik lief vir hom, maar Kumbali het ʼn maat dringend nodig gehad.”

Kago is ook in Mei 2015 gebore en is gered uit ʼn skuiling in Alabama ná hy op straat verlate gelaat is. “The Art of the Paws het hom gered. Hy is na Virginia gebring waar ons hom uiteindelik deur middel van ʼn samewerkende reddingsorganisasie, Awol Mutts, gevind het,” lui ʼn verklaring.

“Ons was dadelik lief vir hom ook, maar dit was belangriker wat Kumbali sou dink. Ons het die twee stadig aan mekaar voorgestel en hulle het vinnig maats geword. Nou spring, hardloop, lek en speel hulle heerlik saam.”

Omdat hul diëte so baie verskil, is voertyd nogal ʼn uitdaging. Hulle vreet op dieselfde tyd, maar word vir dié rukkie geskei. “Kumbali en Kago sal saam oud word.”

Die dieretuin het ʼn spesiale, privaat area vir die bewaring van jagluiperds. Hulle het sedert 2013 al minstens 77 jagluiperds van 18 werpsels grootgemaak en het ten doel om hul werk voort te sit “om die vinnigste dier op land op die planeet te red”.

Vir meer inligting oor die Metro Richmond-dieretuin, besoek hul webwerf of Facebook-blad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Een van die mooiste en dierbaarste goed-voel stories soos @Toffie sê in ‘n lang tyd!!!

piet ·

Wanneer daai cheetah aan die hardloop gaan, dink die hond seker hier is nou ‘n hond van ‘n ander wereld wat so vinnig hardloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.