[Foto’s] Hond met eie kospakkie in Texas-storm verower harte

Otis (Foto: Facebook via Tiele Dockens)

ʼn Foto van ʼn Duitse herdershond wat te midde van die verwoestende orkaan Harvey in die suidweste van Texas in die VSA met ʼn sak hondekos alleen in ʼn straat drentel, versprei soos ʼn veldbrand op sosiale media en verower wêreldwyd harte.

Salvador Segovia, ʼn inwoner van Texas wat veronderstel was om na sy kleinseun se hond, Otis, om te sien, het aan The Washington Post vertel hy het dié hond op sy huis se agterstoep toegesluit net voordat die storm kusdorpe getref het, oorstromings veroorsaak het en huise in die omgewing verwoes het.

Volgens Segovia moes Otis egter bang geraak het toe die storm losbars en hy het op een of ander manier ontsnap. Segovia sê hy het na Otis gaan soek, maar kon nie daarin slaag om hom op te spoor nie.

Tiele Dockens, ook ʼn Texas-inwoner wat nie té ver van Segovia woon nie, het Otis die dag nadat hy weggeraak het in die straat gewaar toe sy na vriende en familie se huise gaan omsien het wat as gevolg van die storm die omgewing verlaat het.

“Dit was asof hy doelgerig op ʼn missie êrens heen loop,” het Dockens vertel. “Ek het gedink dis ongelooflik oulik.”

Dockens het ʼn foto van Otis geneem en dit op haar Facebook-blad gedeel wat intussen wyd op sosiale media versprei is.

Otis (Foto: Facebook via Tiele Dockens)

Sy het aan The Washington Post vertel sy het vinnig besef hy was wél op ʼn missie – dié keer op pad terug huis toe nadat die storm ietwat begin kalmeer het.

“Sy [Dockens] het na my huis toe gekom en my gevra: ‘Is dit jou hond wat hier in die straat afloop?’” vertel Segovia. “Toe ek omdraai en kyk, toe sien ek Otis, en hy het nog kos by hom gedra ook!”

Volgens hom het Otis reguit na die stoep aangestap gekom, die sak kos neergesit en op die stoep gaan lê.

Segovia sê dit is nie die eerste keer wat Otis harte verower nie. “Hy het ʼn baie hartseer gesig, so mense verwonder hulle altyd aan hom wanneer hulle hom sien,” vertel hy. “Hy hou daarvan om sommer na die plaaslike Dairy Queen te loop waar sommige van die personeel vir hom ʼn roomys of ʼn hamburger gee. Hy gaan ook dikwels om by ʼn hardewarewinkel in die omgewing waar die eienaars hom altyd voer. Hy is ʼn baie slim hond.”

Segovia het Otis as ʼn babahondjie aangeneem toe ʼn man hom sommer êrens in die omgewing wou vrylaat. Hy is vanjaar sowat ses jaar oud.

Volgens Segovia was sy kleinseun nog nié tuis teen die tyd toe Otis weer veilig terug was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Adéle ·

Dis soooo ‘n awesome storie……dankie my dag is gemaak
Love love love love diere

Hanna ·

Ek woon, soos honderde ander Suid-Afrikaners, in Houston. Die omvang van Harvey kan nie beskryf word nie. Genadiglik is ons huis en strate om ons nie onder water nie.
Ek is bly Otis is veilig. Hy is te dierbaar!

Theresa B ·

Ag dis dierbaar. Ek is ook mal oor diere en dit breek my hart as iets met enige een gebeur. Dis so hartseer en dierbaar terselfdertyd om te sien hoe elkeen maar op sy/haar manier prober oorleef.

Aggenee ·

Baie dankie Maroela Media, ons almal het ‘n goedvoel storie nodig

LS ·

Ag dis die oulikste storie !!!
Ja-nee-kyk, hy het behoorlik ‘n ou harseer gesiggie, shame !!!

Plaaskind ·

Duitse herdershonde is van nature baie inteligent en beskermend . Sal nie verbaas wees as hy die kossie saam gedra het om te deel nie.

Cute ·

My moedertjie dit is cute, hy wou sy kossies saamvat vir ingeval daar nie is waarheen hy gaan nie .dit is vrek oulik .. hulle is so intelligent en het soveel gevoel, mens kan nie glo mense behandel hulle nog so wreed in meeste lande nie … Sweet storie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.