[Foto’s] Kô, lat ons sing, blaf, bulk en blaas

Die diere en hul eienaars in die kapel. Foto: Verskaf

Die diere en hul eienaars in die kapel. Foto: Verskaf

Honde, perde, ponies, marmotte en katte het onlangs by die kapel van die Felsted Preparatory School in Engeland saamgedrom vir dié privaat skool se spesiale Troeteldierdiens.

Leerders, ouers en inwoners het op 8 Mei hul troeteldiere van groot tot klein na dié diens geneem, ʼn speelse instelling vir die inwoners van Essex, net buite Londen.

Elke jaar se diens het ʼn spesiale boodskap. Vanjaar s’n was “As God vir ons is, wie kan teen ons wees” en om by troeteldiere te leer.

Felsted het in 2014 sy 450ste verjaardag gevier. Dié mylpaal is deur koningin Elizabeth self bygewoon.

Die skool is in 1564 deur Lord Richard Riche gestig wat in Leez Priory gewoon het. Vandag is Felsted ʼn privaat kosskool met vier seuns- en vier meisieskoshuise. Daar is meer as 500 leerders in die skool. Die skool is ook verskeie kere in Tatler se lys van top privaat skole.

Te danke aan die skool se ryk geskiedenis en tradisies is die skool ook die hartklop van Felsted.

Schalk en Jana Meyer, oud-Suid-Afrikaners wat reeds 13 jaar in Engeland woon en werk, het Maroela Media vertel van dié geleentheid wat sorg vir groot pret. “Vanjaar se diens was baie oulik. Die kinders kon luister na stories van diere wat al ander gered het, soos Lassie, Nemo, Flipper en Beethoven. Hulle is vertel daar is egter ʼn groter Redder, Jesus Christus.”

Die Meyers se kinders, Byon (8) en Carinay (6), is ook in Felsted Preparatory School.

Jana het vertel dié geleentheid het vanjaar groot ondersteuning van die gemeenskap verkry. “Daar was baie honde, sommige lekker raserig, katte, marmotte, ons haas wat se naam gereeld verander, ’n hoender, skilpad, hamsters en twee Shetlandponies. Dié diere was glad nie skaam om hulle ‘besigheid’ sommer in die kerk te doen nie,” het sy geskerts. “Gelukkig is daar teëlvloere!”

Hiermee die skattige brief waarin die troeteldiere uitgenooi word:

Liewe Felsted-gesinne

Dit is vir ons lekker om u te nooi na ons Troeteldierdiens op 8 Mei. Die laaste keer dat ons die geleentheid gehou het om ons diere te vier en wat hulle vir ons beteken, was groot pret. Die diere het hulle ook knap gedra!

Sluit gerus by ons aan vir vanjaar se geleentheid om 10:00 in die kapel. Om te verseker dat die geleentheid suksesvol is, moet almal asseblief die volgende reëls nakom:

Klein troeteldiere (marmotte, muise, hoenders) moet in die voorste banke in hokke gesit word. Hulle kan uit hul houers geneem en vertroetel word, maar die hokke moet voor gehou word vir veiligheid. Honde en katte moet in die middelste banke bly. Katte moet bokse hê en honde moet aan ʼn leiband gehou word.

Bokke, skape en lammers moet vasgemaak wees. Alle perde moet ook vasgemaak wees. Ander diere (soos slange) moet op die balkon gehou word.

Bring asseblief jou eie voer en skoonmaakgereedskap. Water sal aan die diere verskaf word. Wees asseblief verantwoordelik vir jou troeteldier.

Ns. Die enigste troeteldier wat hom tot dusver wangedra het, is my eie McDuff, Westie, wat die behoefte gekry het om te pieps op ʼn onderwyser en een ouer se Jimmy Choo-skoene. Dit was baie vernederend.

Ons sien daarna uit om jou en jou troeteldiere te sien!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.