[Foto’s] Maak só ʼn rugsak uit ʼn broek

Maak só ʼn rugsak uit ʼn broek (Foto: Laatlos)

deur Rean Steenkamp

Wanneer jy reis of sommer ʼn naweek saam met die gesin weg van die huis is, is ʼn rugsak dikwels een van die noodsaaklike moet-hê-items. Dié sak maak jou reis eenvoudig – jy hoef nie jou hande vol te hê met ʼn bottel water, sonbrandroom of items wat jy langs die pad gekoop het nie.

Die meeste mense het egter dié reisitem al meer as een keer tuis vergeet. Voor jy jou kom kry, moet jy dus jaag na die naaste winkel om ʼn rugsak – een wat jy heel waarskynlik nié binnekort weer gaan gebruik nie – aan te koop.

Daar is ʼn beter oplossing: Sou jy jou in só ʼn noodgeval bevind, kan jy sommer self ’n bruikbare rugsak uit ’n ou broek maak wat sy doel meer as goed genoeg sal dien.

Jy benodig
Een ou broek met lang pype.

Maak só

  1. Neem ’n ligte maar stewige tou en bind die broekspype naby die onderkante stewig toe met ’n ordentlike knoop. Laat die punte van die toue afhang.
  2. Ryg ’n langer tou deur die beltlussies van die broek.
  3. Pak nou die goed wat jy wil saamdra mooi kompak in ’n lap, broek, hemp, baadjie of wat ook al en sit dit in die boonste deel van die broek.
  4. Ryg die belt of ’n stuk tou styf deur die lussies sodat dit die bagasie binnehou.
  5. Verleng die punte van die belt of tou tussen die bene van die broek deur en bind dit aan die belt aan die agterkant vas.
  6. Neem nou die toue om die broekspype en bind dit ook aan die belt/tou vas.
  7. Gooi nou die sak oor jou skouers en gebruik die broekspype as skouerbande. Siedaar, ’n netjiese rugsak.

Rean Steenkamp is die redakteur van Laatlos en Africa’s Bowhunter. Dié artikel is oorspronklik in die Laatlos-tydskrif geplaas. Vir meer soortgelyke artikels, besoek Laatlos se webwerf en Facebook-blad. Om vir die tydskrif in te teken, besoek Magzster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.