Foto’s: Meer as 6 000 Barbie-poppe

Jian Yang en sy versameling Barbies

Jian Yang en sy versameling Barbies

Jian Yang (33) van Singapoer het meer as 6 000 Barbie-poppe en meer as 3 000 ander tipe poppe wat op ʼn skelpiekvloer in sy huis uitgestal is.

“As jy my buite my huis ontmoet sal jy nooit raai ek versamel poppe nie,” het Yang aan Reuters gesê. As strategiedirekteur van die Omicom Media Group het Yang ʼn professionele belangstelling in speelgoed en verbruikersneigings. Hy het op 13-jarige ouderdom al begin om die Barbies te versamel toe hy sy eerste “Great Shape”-model in ʼn turkoois Spandex-gimnasiumuitrusting en gestreepte kuitkouse aangeskaf het.

Yang het oor die afgelope 20 jaar glo al ten minste $392 000 (meer as R3,9 miljoen) aan sy versameling spandeer wat ook honderde poppe van die Bratz Girls, Monster High en Jem and the Hologram insluit.

Wêreldwyd is daar al meer as een miljard Barbie-poppe verkoop. Sy is in 1959 met ʼn zebrapatroon-swembroek bekend gestel. Verkope vir Mattel Inc, die maatskappy wat haar vervaardig, het in die periode tussen April en Junie vanjaar egter met 12% gedaal soos neigings en smaak begin verander.

Yang sê Barbie is ʼn ikoon wat steeds ʼn toekoms het, maar belangstelling in dié pop en ander prinsesse en ballerinas is besig om te kwyn terwyl belangstelling vir poppe en stories uit vampier-rolprente soos “Twilight” toeneem.

Yang se oudste Barbies dateer uit die vroeë 1960s, insluitend een wat ʼn verpleegstersuniform aanhet met kat-oë. Hy besit ook Barbies wat verskillende lande se volksdrag aan het en Barbies wat lyk soos Grace Kelly, Barbara Streisand, Carol Burnett en Elizabeth Taylor.

Die seldsaamste Barbie wat hy besit is ʼn model wat slegs in die boetieks van die Comme des Garcons-modehandelsmerk verkoop word. “My vriend het haar in Hong Kong opgespoor en my dadelik gekontak.”

In ʼn dakhoogte glaskas in die sitkamer klink Osama bin Laden en Saddam Hussein ʼn glasie terwyl Jackie Onassis, Prinses Diana en die slegte fee uit die Slapende Skoonheid hulle toekyk. Elders pryk Elvis Presley, Sean Connery as James Bond en karakters uit Harry Potter en Star Trek.

Die kleur van die vloer is nie net enige skelpienk nie, dit is Barbie se eie handelsmerkkleur – Pantone 219C.

“Ek reis vir werk en vir myself, so ek spoor gereeld poppe oral op,” verduidelik Yang. Hy het tydens sy laaste reis na New York met 65 poppe teruggekeer. Hy ontvang poppe ook as geskenke en koop hulle op veilings en die internet.

Wat sal hy doen as hy nie meer plek het nie? “Ek sal ʼn ander huis koop,” het hy gelag en na ʼn deur gewys. “Ek het nog ʼn leë muur daar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.