Foto’s: Mollige rot in mangatdeksel steel harte

Die vet rot spartel tevergeefs om haarself te bevry. (Foto: Berufstierrettung Rhein Neckar)

ʼn Spekvet rot wat ʼn week gelede in ʼn mangatdeksel vasgesit en tydens ʼn breedvoerige reddingsoperasie bevry moes word, het sedertdien sosialemediagebruikers oor die hele wêreld se harte gesteel.

Dit volg nadat ʼn reddingspan van Bensheim in die suidweste van Duitsland verlede Sondagmiddag moes inspring om in ʼn baie ongewone “noodgeval” te help.

BBC berig die reddingspan bestaande uit brandbestryders en dierewelsynsbeamptes is in kennis gestel van ʼn rot wat in ʼn mangatdeksel vassit en haarself nie kon bevry nie. Twee jong meisies het op die spartelende diertjie afgekom en hulp ontbied.

“Sy het baie ekstra wintervetjies aangesit en haar heupe het stewig in die gat van die mangatdeksel vasgesit. Sy kon nie vorentoe of agtertoe nie,” het Michael Sehr, ʼn dierewelsynsbeampte, aan plaaslike media gesê.

Die reddingspan besig om die rot te bevry. (Foto: Berufstierrettung Rhein Neckar)

ʼn Paar vrywilliger-brandbestryders het gehelp om die mangatdeksel op te lig en op wiggies te balanseer terwyl Sehr gepoog het om die rot te bevry sonder om haar te beseer. Ná ʼn groot gesukkel is die mollige rot uiteindelik bevry en nadat ʼn paar foto’s eers geneem is, terug in die rioolpyp vrygelaat.

Op ʼn vraag hoekom daar soveel moeite gedoen is vir ʼn eenvoudige rot, het Sehr geantwoord: “Selfs diere wat deur baie gehaat word, verdien respek.”

Talle sosialemediagebruikers het die reddingspan geloof wat vrywillig hul tyd opgeoffer het om die diertjie te red en haar nie aan haar eie genade oorgelaat het nie. Plaaslike inwoners sal waarskynlik nog lank gesels oor Bensheim se vet rot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Katerina ·

Ou rot’tjie,dank jou sterretjies jyt in Duitsland vasgesit en nie in Afrika nie ?

JanSeerot Aucamp ·

Ha ha, hier in Mosambiek sou die rot op ‘n sosatiestok beland het.

Pieter ·

Dis soos om met ‘n fiets in ‘n paal in ‘n oop ruimte vas te ry en die ma wat vloek … F ….. M …..

Pieter ·

Ja, die muis wat in die mangat se deksel vassit en die mamma sê …. F ….. Muis.

Johann cb ·

Tog té oulik! Mies Muis is ongelukkig heelwat oorgewig en sal as “obese” moet deurgaan! Sy sal beslis ‘n “Banting Diet” moet volg!

Jozi ·

@Linda,
Nee, sies vir jou! Jy is duidelik een van daai mense wat alles voor die voet doodmaak.
Geen respek vir ‘n lewe nie.

Katerina ·

?skreeusnaaks vir my… ? tipies europeërs wat ñ RESCUE 911 operasie uitvoer om ñ vet rot te red!!! ???

Louise ·

Dit is vir my n regte voel-goed berig na al die hartseer nuusberigte! Laat my hart warm klop om te sien dat daar wel nog GOED in ons wêreld is! Al was dit dalk net ter wille van die twee dogtertjies! In hulle onskuld besef hulle nog die waarde van lewe…. al is dit n oorgewig rot sin. Ons kan almal iets hieruit leer! Wel gedaan julle!

Jeremia ·

Hierdie hele reddingsaksie kan ek verstaan en my daarmee vereenselwig.
Vandag het ek ‘n man gesien wat met ‘n slang loop in ‘n openbare park. Hy het later op ‘n bank gesit waar sy 2 tienerkinders op swaaie ry. En hy het verseker toe die slang neergesit op die grond. Seker vir ‘n wandeling.
Dis onverstaanbaar en absurd – iemand wat ‘n slang vir ‘n wandeling neem in ‘n openbare park.

IK ·

Wees seker dat hy en die kinders heel veilig is teen roof in hierdie SA, ek dink dis ‘n goeie plan! Wat die rot betref is in SA nie meer sulke deksels want almal het ‘n heenkome gevind by skrootwerwe.

Spike ·

Sulke reddings pogings kry jy net in 1ste werêldse lande. sa dalk vroeër jare, maar nou 3de werêlds.

Theresa ·

Dis nou baie dierbaar. Ek salueer jou Sehr. Nie almal dink so nie. Elke diertjie verdien respek. Hier in SA het die mense nie eers respek vir mekaar nie wat nog te sê vir diere. Dis hoekom alles uitgewis word en dit gaan soos dit gaan.

My mening ·

Baie bly sy/hy het die beproewing oorleef! Ken die gevoel van breer heupe en maag na n vakansie!

GM ·

En so het hulle terselfdetyd twee dogtertjies se harte ook bly gemaak. Cute rot (ek soek hul net nie in my huis nie).

Pieter, jou kommentaar is kru, maar aangesien dit nog daar is, vang almal dit nou seker nie.

Nettie ·

Ag jinne, GM, ek moes twee keer gaan lees om die ‘kru’ in Pieter se kommentaar raak te lees. Regtig man, moet julle altyd ‘n konneksie maak óf met seks òf met ras?

Lizelda ·

Aaaah, dis n mooi storie. Ek hoe veral vd woorde “selfs diere wat deur baie gehaat word verdien respek”. Ek wens ons hele mensedom kan so redeneer.

lee ·

Koddige storie dié – van die mollige mevrou muis met haar wintervetjies.
Haar mannetjies-rot kyk seker baie mooi na haar, letterlik en figuurlik !!
Dis soos ‘n verhaaltjie uit ‘n kinderstorieboekie uit – respekvol, goeie bedoelings en ‘n mooi einde.

Baie dankie MM

ps: dankie ook aan die 2 Duitse meisietjies met mooi diere-hartjies.

Niel ·

as dogtertjies om hulp vra, dan kan mens nie anders om gehoor te gee aan hulle noodoproep, en sal mens enige iets doen om hulle hartjies bly te maak. Dis ‘n goeie manier hierdie om die sielkundige van mense te oordeel en te sien hoe hard hulle geraak het en die uitkyk wat hulle het op die lewe en die perspektief hulle het rondom die hele prentjie

Snowball ·

Arme ding, die eerste foto lyk behoorlik of sy om hulp roep, so met die bekkie oop. Oorgewig is ‘n lelike ding…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.