Die inwoners van Monaco sowel as uitgesoekte gaste het Woensdag hul nuwe prins en prinses ontmoet.
Prins Albert en prinses Charlene het van een van die paleis se balkonne af hul tweeling, Gabriella Thérèse Marie en Jacques Honoré Rainier, gewys.
Dit kom nadat die koningshuis kort voor Kersdag die eerste foto’s van die tweeling beskikbaar gemaak het. Die tweeling is op 10 Desember gebore. Gabriella is twee minute voor haar broer in die Prinses Grace-hospitaal gebore.
Jacques is die amptelike troonopvolger vir sy pa terwyl sy suster as die gravin van Carladès bekend sal staan. Charlene (36) is in Zimbabwe gebore maar het in Suid-Afrika grootgeword en was ’n Olimpiese swemmer vir die land. Sy en haar 56-jarige man is in Julie 2011 getroud.