Foto’s: ʼn Hele stad uit gemmerbrood!

gemmerbrood 4

(Foto: Luke Hayes)

Tientalle groot argiteksfirmas wêreldwyd het weer vanjaar byeengekom om saam te bou aan ʼn stad – uit gemmerbrood!

Die uitstalling van dié eetbare metropool kan by die museum van argitektuur in Londen besigtig word. Die uitstalling het verlede jaar meer as 16 000 besoekers gelok.

Die doel van die gemmerbroodstad is om ʼn denkbeeldige stad te skep wat die algemene publiek op ʼn ongewone en prettige wyse betrek by kontemporêre argitektuur en ontwerp. Die meesterplan is opgetrek deur Tibbalds Planning and Urban Design en mik daarna om gesprekke aan te moedig oor die manier waarop argitektuur ons lewenswyse beïnvloed.

“By die museum van argitektuur werk ons aan ʼn positiewe verhouding tussen ʼn stad en sy inwoners. Ons wil mense deur die gemmerbroodstad inspireer om om te gee vir die manier waarop hulle stad gevorm is en watter impak die geboue het op die manier waarop hulle leef,” het Melissa Woolford, direkteur van die museum, luidens ‘n persverklaring gesê.

Volgens CNN het ongeveer 50 maatskappye wat spesialiseer in argitektuur, ingenieurswese en landskapontwerp gebak en brou aan strukture vir die projek. Die gemmerbroodstad spog met ʼn kasteel, ʼn stadion, drie brûe, openbare geboue en woonbuurte.

Die stad is gebou op ʼn 1:100 skaal en word saamgestel uit vier afsonderlike buurte. Die deelnemende argitekte moet hul eie gemmerbrood bak en is toegelaat om suiker en ander lekkergoed by hul ontwerpe te voeg. Hulle mag ook nie-eetbare produkte gebruik as ondersteunende strukture, maar dit mag nie vir museumgangers sigbaar wees nie.

Projekorganiseerders het die deelnemers aangeraai om die gemmerbrood sonder bakpoeier te bak sodat dit langer ferm kan bly.

Lede van die publiek kan ook deelneem aan gemmerbroodhuis-werksessies waartydens hulle meer kan leer oor die ontwerp van geboue en kreatiewe vaardighede kan aanleer tydens die Kersseisoen.

Die uitstalling duur tot 22 Desember.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.