Foto’s: ʼn Man en sy kat se avonture

(Foto: @mon_copain_ray/Instagram)

Rémy Vicarini (31) van Besançon in Frankryk en sy kat, Cathode, is onskeibaar en die twee het al talle opwindende avonture deurgemaak.

Van bergfietsry tot rotsklim, valskermspring, ski en motorfiets ry – die twee het dit al alles gedoen en saam spog hulle al met byna 80 000 volgelinge op Instagram.

Cathode het tot selfs ʼn spesiale valhelm om seker te maak sy is veilig wanneer sy saam met Rémy rondrits.

“Ek het Cathode in ʼn skuiling gekry toe sy ses maande oud was,” verduidelik Rémy. “Ek het lank studeer om verskillende diplomas te verwerf en ek wou ʼn kat hê met wie ek my lewe kon deel.”

Volgens hom is Cathode ʼn baie nuuskierige kat. “Sy is soms bietjie bang, maar ek neem aan verskillende sportsoorte deel en wou dit ook met haar deel. Twee maande ná ek haar aangeneem het, het ons begin fietsry en sy was dol daaroor!”

Hy maak seker dat sy altyd veilig is. “Sy het nog nooit enigsins gewys dat sy nie van iets hou nie. Ek is vertroud met al die aktiwiteite wat ons aanpak, so daar is nooit ʼn risiko vir haar nie.”

Hy het self met ʼn 3D-drukker die valhelm ontwerp en gemaak sodat dit haar perfek pas en haar ook teen wind kan beskerm.

“Ons is onskeibaar. Sy maak staat op my en sy voel veilig by my. Sy vertrou my en ek vertrou haar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.