Foto’s: ʼn Ver pad om te reis vir ʼn klein koeitjie

Cowie op pad huis toe (Foto: Richard Sains/Facebook)

“Mens fokus gereeld op die negatiewe aspekte van sosiale media – maar tog stel dit jou in staat om binne sekondes kontak te maak met fantastiese mense wêreldwyd wat bereid is om mens te help.”

Só sê Richard Sains, ʼn pa van Engeland wie se jongste dogter, Hattie, haar gunsteling speelding, ʼn koei genaamd Cowie, in Ysland verloor het.

Die gesin het in Augustus in Vík í Mýrdal gaan kamp toe die 10-jarige Hattie per ongeluk vir Cowie daar agtergelaat het. “Sy was baie ongelukkig, want ons vakansie was reeds vooruit beplan en ons sou nie kon terugkeer om hom te gaan haal nie.”

Richard het probeer om Cowie na Reykjavik te stuur sodat hulle hom aan die einde van hul toer daar kon oplaai, maar toe dit nie gewerk het nie, het hy met koeriermaatskappye probeer reël om hom te gaan oplaai – maar dit was ook tevergeefs. “Ek kon ook nie by die kampterrein self regkom om hom vir ons terug te stuur nie.”

Hy het maande lank tevergeefs probeer om Hattie en Cowie te herenig.

Hattie het vroeër vandeesmaand een aand met slapenstyd oor Cowie gehuil toe sy besef dat sy hom waarskynlik nooit weer gaan sien nie.

Cowie (Foto: Richard Sains/Facebook)

“Ek het ons storie op die Travel Iceland-Facebook-groep gedeel. Ek het nie eintlik verwag dat enigiets gaan gebeur nie, maar die volgende oggend was daar sommer baie kommentare – mense wat verby Vik sou reis en ander wat weer na die Verenigde Koninkryk terugkeer. Almal wou hê Cowie moet terugkom huis toe, en hulle wou seker maak dat dit gebeur!”

Óðinn Yngvason, ‘n toergids van Ysland, het ingestem om Cowie in Vik te gaan haal en hom na Reykjavik te neem. Halldór Ingvason, ook van Ysland, het op sy beurt ingestem om saam met Cowie van Reykjavik na Londen te reis.

“Hulle het op pad ons gereeld op hoogte gehou. Cowie het ʼn behoorlike reis gehad en baie vriende gemaak. Daar is uitstekende foto’s – selfs waar Cowie saam met die bemanningslede op die vliegtuig kuier!”

Cowie is uiteindelik in ʼn kroeg in Bloomsbury aan Richard oorhandig. “Hattie was baie dankbaar toe sy wakker word en Cowie en sy nuwe papegaaiduikervriend sien – slegs drie dae ná ek die storie op Facebook gedeel het.”

Richard het almal by Travel Iceland bedank met ʼn spesiale dankie aan Óðinn en Halldór dat hulle seker gemaak het Cowie kan huis toe kom.

Klik hier om nog foto’s te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Natasha ·

Dis so kosbaar! Stories soos die gee mens nog hoop vir die wêreld waarin ons is.

Janee ·

Is dit nie ‘n pragstorie nie?….en die man het omtrent gereis!!

Karina ·

Dit is te kosbaar vir woorde. Wys daar is nog behulpsame mense op ons Moeder Aarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.