Foto’s: Pa en dogtertjie bou saam nuwe herinneringe ná jong ma sterf

ben 2Nog foto’s volg onderaan die berig. Ou troufoto’s help ʼn pa van Ohio in Amerika om ʼn brug te bou tussen die seer oor die afsterwe van sy jong vrou en die hoopvolle toekoms propvol nuwe herinneringe en avonture saam met sy klein dogtertjie.

Ben en Ali Nunery was in 2009 pasgetroud en uitgevat in hul trouklere toe hulle vir troufoto’s poseer het in hul nuwe, ongemeubileerde huis in Cincinatti, Ohio.

Ben se nuwe skoonsus, Melanie Pace, is ʼn professionele fotograaf en sy het ʼn reeks foto’s van die twee geneem. “Daardie foto’s is van die gelukkigste oomblikke in my lewe,” het Ben op sy blog geskryf. “Dit was die begin van dit wat ons beplan het, ʼn lang en gelukkige lewe saam.”

Ali het egter kort daarna uitgevind sy het ʼn tipe longkanker en sy is in 2011, ʼn jaar nadat hul dogtertjie Olivia gebore is, oorlede. Sy was 31 jaar oud.

Ben en Olivia het steeds in die huis aangebly, maar vanjaar het hy besluit om uiteindelik die huis te groet. Hy het egter besef dat hy en Olivia nie net kan uitstap sonder om die geleentheid op een of ander manier vas te lê nie. Hy het weer sy skoonsus se hulp ingespan en sy het dieselfde foto’s, wat hy eers saam met Ali geneem het, nou saam met die driejarige Olivia geneem – die ander liefde van sy lewe.

“Ek wou iets doen om die geleentheid vas te lê. Om die herinnering vas te vang,” skryf Ben. “Olivia en ek sal na die foto’s kan kyk en weet, dit was die plek waar ek die gelukkigste man in die wêreld was, al was dit net vir ʼn kort rukkie.”

Ben sê die foto’s handel nie oor rou of om vas te klou aan die verlede nie, maar is ʼn viering van die ongelooflike liefde wat hy vir Ali en Olivia koester.

ben 1
ben 2
ben 3
ben 4
ben 5
Klik hier om nog foto’s te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karin Claassens-Nel ·

Wat ‘n pragtige klein dogtertjie, wat ‘n wonderlike pa!

Charlotte Barnard ·

Pragtige artikel! Ek is so bly om te sien daar is Pa’s wat so sensitief kan wees om kosbare herinneringe te behou.

Hannelie Horn ·

Voorwaar ‘n pragtige artikel met tikkie hartseer in. Herinneringe is al waaraan mens kan vasklou. Wonderlike pa wat herinneringe bou vir ‘n klein dogtertjie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.