Foto’s: Pret op die wasgoeddraad

(Foto: helga.stentzel/Instagram)

Toe Helga Stentzel ʼn paar jaar gelede wasgoed gedoen het, het sy met die idee vorendag gekom om ʼn wasgoeddraad te gebruik om verskillende diere daarop uit te beeld.

Dit het gelei tot ʼn Instagram-profiel wat tans reeds byna 275 000 volgelinge het.

Helga, ʼn kunstenaar gebore in Siberië, woon en werk tans in Londen in die Verenigde Koninkryk. Sy gebruik illustrasie, fotografie en animasie in haar kunswerke.

Sy het die Food Art Creator of the Year-toekenning in 2020 ontvang en het al onder andere saam met Amazon, BBC en Honda gewerk. Sy het ook al verskeie uitstallings in New York en Londen gehad. Sy het kinderklere gemaak voor sy voltyds aan haar kuns begin werk het.

“Huishoudelik surrealisme is om die magiese raak te sien in die vervelige; om skoonheid te sien in imperfeksie en om op ʼn nuwe manier met ons werklikheid te verbind,” sê Helga.

“Ek sien gereeld speelse ooreenkomste raak – ʼn trui op ʼn wasgoeddraad wat soos ʼn perd lyk, of ʼn snytjie brood wat soos ʼn hond lyk. Dit is net die wegspringplek. Van daar af begin ek dink aan die stories en die visuele elemente: Hoe lyk hierdie perd? Wat is haar naam en karakter? Hou sy daarvan om resies te jaag teen ander perde? Die lys gaan net aan en aan!”

Helga hoop dat haar kuns mense sal help om met hul innerlike kind te verbind en die vreugde te herontdek van visuele vreugdes binne en buite hul huise.

Volg haar kuns op Instagram by helga.stentzel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Baie kunstig en dit met alledaagse items. Ek jaag gewoonlik net om klaar te kry en kyk nie eens 2 maal na my wasgoed nie. Baie oulik!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.