[Foto’s] Só warm, jy kan koekies in die kar bak!

78.1 grade Celsius in die voertuig waar Deon Rossouw die koekies bak! (Foto aan Maroela Media verskaf)

78.1 grade Celsius in die voertuig waar Deon Rossouw die koekies bak! (Foto aan Maroela Media verskaf)

Mense spot gewoonlik wanneer dit só warm is en wonder dan of jy ʼn eier sou kon bak in die son. Deon Rossouw van Phalaborwa in Limpopo het een stappie verder gegaan: kan mens koekies bak in ʼn motor?

Deon, wat vir ʼn vervoermaatskappy in Phalaborwa werk, het besluit om ʼn Toyota Quantum-bussie te gebruik as die “oond”.

“Ek het die resep vir vlakoekies sommer van die internet afgetrek en net die helfte van die resep aangemaak,” het Deon aan Maroela Media vertel. Hy sê hy geniet dit om met “gebakte goete” te eksperimenteer. “Ek voel mens gaan nie weet hoe dit gaan proe of lyk as jy dit nie self probeer het nie! Soms is dit ʼn totale flop, maar definitief die moeite werd om te probeer!”

Deon het die baksel Woensdagaand [6 Januarie 2016] aangemaak en in die kombuis laat staan. “Onthou die temperatuur in Phalaborwa is soms nog steeds in die hoë 30’s, en in die huis soms warmer as buite!”

Om 06:44 het hy die koekies in die Quantum geplaas: die temperatuur was 26.1 grade Celsius. Om 09:40 was die temperatuur reeds 40.7 grade. “Mens kon sien hoe die koekies begin rys,” het Deon verduidelik.

Om 12:00 was dit 72.6 grade Celsius in die Quantum. “Die meeste van die koekies het teen hierdie tyd reeds dubbel in grootte gerys en die kante van die koekies het al begin hard word!”

Om 13:03 het die kwik gestyg tot 78.1 grade. “Die koekies begin al amper ‘gaar’ word! Die koekies is só warm dat mens nie meer rêrig aan hulle kan raak nie,” het Deon verduidelik. “Op die foto kan mens duidelik sien dis nie meer die rou deeg waarmee ek in die oggend begin het nie. Die geur van koekies hang nou in die Quantum!”

Om 15:45 is dit tyd om te proe! Die temperatuur is nou 51.8 grade Celsius. “Ek sou sê die koekies is ten minste 80% gaar. Daar is ʼn paar stukke in die middel van die koekies wat definitief nie deur gaar is nie, maar mens kan die kante afeet!”

Om ongeveer 18:00 is die temperatuur 40 grade. “Dit was die laaste wat ek neergeskryf het. Die koekies was nie 100% gaar nie, maar ek kan sê dit proe, ruik en voel soos ʼn vlakoekie! Dit krummel selfs soos ʼn perfekte koekie!”

Deon het gesê hy is verras dat dit so half gewerk het. “Dit is scary om te dink dat dit moontlik sal wees om koekies in ʼn voertuig te kan bak! Die Quantum se kant- en agterste venster is met ʼn film bedek, so dit sou dalk warmer gewees het as die ruite nie verdonker was nie.”

Deon sê hy staan verstom oor die hoeveelheid mense wat die sage gevolg het. “Een dame het gesê vir een dag het dit mens laat vergeet van al die probleme om jou, soos die droogte. Vir een dag kon ons net bietjie laf wees en iets doen wat nie alledaags is nie,” het hy verduidelik.

Deon se Facebook-plasing op die groep, In en om die huis, was baie gewild en byna 1 000 mense het die “like”-knoppie gedruk.

“Ek wou so graag vandag ʼn eier probeer bak, maar dit is bewolk, so dit sal nie werk nie,” het Deon bygevoeg.

Hy sal ons op hoogte hou as hy dit tog aanpak!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wetta ·

En steeds kry jy mense wat hulle kinders en diere in die kar toe sluit en gaan inkopies doen.

Zee Grobbelaar ·

Awesome deon! En ons dames het dit baie geniet selfs gespot met jou idee

Zee Grobbelaar ·

Awesome deon! En ons dames het dit baie geniet selfs gespot met jou idee

DPJ ·

Hy moet maar ‘n bakkery in Quentam begin om in die ry koekies te bak en aflewer. Hy moet net nie lugreëling aanskakel nie.
geen krag verbruik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.