[Foto’s] Vreemde versoek vir swangerskapfoto’s het internet op hol

Foto: Kendrah Damis Photography

ʼn Vrou van Massillon, Ohio, het ʼn swangerskapfotosessie gereël, maar terselfdertyd talle sosialemediagebruikers geskok met haar keuse van bybehore.

Emily Meuller is ʼn korfhouer van beroep en besit saam met haar man die maatskappy Honey Bee Removal. Sy het besluit om vir haar swangerskapfoto’s óók haar geliefkoosde insek te betrek.

Daily Mail berig dat Meuller en haar man, Ryan, 24 byekorwe vir hul maatskappy besit en toe die geleentheid hom voordoen om dié insekte by haar swangerskapfoto’s in te sluit, het hulle dit met ope arms verwelkom.

“Baie mense dink ek is gek, maar ek is só gemaklik met bye dat dit nooit iets is waarvoor ek bang was nie,” het sy aan Daily Mail gesê.

Kenrah Damis Photography is genader om die fotosessie te doen. Damis het al honderde swangerskap- en familiefoto’s geneem, maar nog nooit só iets teëgekom nie. Damis het in ʼn Facebook-inskrywing gesê dit was ʼn enig-in-sy-soort-ondervinding.

Meuller het aan ander media gesê sy wou nie aandag soek met die fotosessies nie, maar bye hou wel vir haar baie betekenis in. “Bye verteenwoordig lewe en dood. Ons het al drie miskrame gehad, so hierdie foto’s word opgedra aan die lewe en die dood, aan al die kinders wat ons gehad het.”

Die vraag op almal se lippe is natuurlik hoe sy die bye sover gekry het om haar nie te steek nie. “Die tegniek is om die bye te laat swerm,” het Meuller gesê. “Voor bye die korf verlaat om hul koningin te volg, eet hulle soveel as wat hulle kan. Omdat hulle so baie eet, word hulle lui en hulle mae raak vol. Hulle kan dan nie ver genoeg ombuig om te steek nie.”

In die foto’s hou Meuller die koninginby in ʼn klein hokkie in haar hand vas, sodat die bye op haar lyf sit.

“Dit was ʼn bietjie senutergend, want dit was my eerste ondervinding met bye op my lyf. En veral omdat ek ʼn rok gedra het, kon dit baie gevare inhou,” het sy gesê.

Sedert die fotosessie aan die publiek bekendgemaak is, is Meuller en Damis oorval met vrae deur die media en gebruikers op sosiale media. Kendrah Damis Photography se Facebook-inskrywing van dié fotosessie is tans al amper meer as 10 000 keer gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JPV ·

Nie so gek as jy weet wat jy doen EN dit is Europese bye. Probeer dit met Afrikaby spesies (bv. Capensis ) wat in Canola of fynbos is. Of moet ek dalk sê, moenie dit probeer!

madels ·

Jip, moet definitief NIE die Afrika bye betrek met jou foto sessies nie, dit sal eindig met baie einas.. sy in nietemin baie braaf!!!

Kansvat ·

Die sê van ..moet nie noodlot uittart nie, is in dié geval van pas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.