Foto’s: Vrou trou met die kleur pienk

Kitten Kay Sera tydens haar troue (Foto: kittenkaysera/Instagram)

ʼn Vrou het met die kleur pienk getrou, nadat sy glo 40 jaar lank met dié kleur “in ʼn verhouding” was. Dit was ʼn bisarre seremonie en vermoedelik die eerste van sy soort.

Kitten Kay Sera staan bekend as “die pienkste mens in die wêreld”. Sy het in 2018 opslae gemaak toe sy meer as £1 miljoen spandeer het aan haar eenkleurige huis en klerekas.

Nou het sy dié obsessie verder gevat en Kitten het met die kleur getrou, ná sy inspirasie geput het uit ʼn gesprek met ʼn kind.

Sy het natuurlik ʼn pienk rok aangehad, in ʼn pienk Chevrolet opgedaag en ʼn pienk ring vir haarself gekoop. Sy het in plasings op Instagram die “grootste dag van haar lewe” met haar aanhangers gedeel – insluitend ʼn foto van die troukoek, waar ʼn pienk swaan bo-op gepryk het. “Baie dankie aan @bigsugarbakeshop WOW!!! My troukoek en kolwyntjies was fantasties!” het sy geskryf.

Kitten Kay Sera se troukoek (Foto: kittenkaysera/Instagram)

In ʼn onderhoud met KVVU-TV het Kitten gesê sy is al jare lank in ʼn verhouding met die kleur, maar dit was nou die regte tyd om dit amptelik te maak. Sy het met die idee vorendag gekom ná ʼn gesprek met ʼn kind wat gesê het sy moet met die kleur trou as sy so lief is daarvoor.

Kitten se liefde vir die kleur het per ongeluk op haar 20ste verjaarsdag gebeur, toe sy gewonder het wat om vir haar partytjie aan te trek. Sy het besluit op ʼn pienk bloes, pienk romp, pienk skoene en pienk bykomstighede. “Ek het wonderlik gevoel. Ek het gedink – as dit my só fantasties laat voel om soveel pienk aan te trek, hoekom sal ek dit nie elke dag doen nie?” het sy vroeër verduidelik.

Dit het vir haar “belaglik” gevoel om terug te gaan na ʼn blou denim en wit T-hemp. “Ek wou nie tot die volgende spesiale geleentheid wag om weer pienk-gelooflik te voel nie. Ek wou elke dag in pienk mooi voel en lyk. Ek het my motor verkoop sodat ek genoeg geld kon kry om uit my tuisdorp van Houston, Texas, na die helderpienk ligte van Hollywood te verhuis.”

Kitten beskryf haarself as ʼn flamink in ʼn wêreld vol grys duiwe. “Wanneer ek tydens die oggend-spitsuur in ʼn besige straat afstap, dan dra almal grys of swart. Daar is nie enige uitdrukking nie, geen individualiteit nie. En tog dink mense ek is die een wat mal is!”

Sy het oor die jare al miljoene spandeer aan pienk bykomstighede en uitrustings. “Dit klink baie, maar as mens dit oor dekades afbreek, dan is dit nie veel meer as wat almal aan motors, rusbanke en bykomstighede spandeer nie. Die enigste verskil is dat elke dollar vir my aan pienk spandeer word.”

Die troue sal na verwagting later vanjaar ook op Netflix uitgesaai word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

BOKKIEBEK ·

Ek dink dis belaglik…Maak van iets so spesiaal – ‘n bespotting!!

madels ·

Die huwelik is mos herdefinieer.. daar is nou soveel malheid dis nie eers meer snaaks nie

Louise ·

As jy nou vervelig is en nie meer weet wat om te doen om aandag te kry nie doen jy nou sulke belaglike goed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.