Franse burgemeester ‘spyt’ oor Aprilgekgrap

(Foto: AP)

Die burgemeester van ʼn stad in die noorde van Frankryk moes noodgedwonge om verskoning vra nadat haar Aprilgekgrap plaaslike inwoners warm onder die kraag gelaat het.

Caroline Cayeux, burgemeester van Beauvais, het op 1 April Facebook en Twitter gebruik om aan te kondig dat die Sweedse meubelreus Ikea ʼn nuwe winkel in Beauvais gaan oopmaak, wat 4 000 nuwe werksgeleenthede vir plaaslike inwoners sou skep.

Die werkloosheidsyfer in Beauvais is teen 11% hoër as die nasionale gemiddeld en inwoners het dus die “goeie nuus” met ope arms verwelkom – net om later te hoor dit was “un poisson d’avril”, of te wel ʼn Aprilgekgrap.

Volgens die BBC is Cayeux “spyt oor die onwyse grap” waarmee sy die internet aan die gons gehad het.

“Ek is jammer dat die sin vir humor nie deur almal gedeel is nie,” het Cayeux gesê en bygevoeg dat sy hoop ʼn nuwe kommersiële ontwikkeling buite Beauvais, ʼn stad met ʼn bevolking van 54 000, wel werksgeleenthede vir inwoners sal skep.

Talle sosialemediagebruikers het kommentaar gelewer op Cayeux se plasing. “Dit is eenvoudig skandelik van ʼn persoon in jou posisie om valslik hoop te skep vir werksoekers,” het een gebruiker volgens The Telegraph gesê.

Nie almal was egter krities nie. “Dankie vir jou humor, almal praat nou oor Beauvais,” het een winkeleienaar gesê.

Cayeux, ʼn ywerige sosialemediagebruiker, het erken dat die oefening nie ʼn totale sukses was nie. “Ons sal volgende jaar beter doen,” het sy gesê.

Een Twitter-gebruiker het egter gesê dat inwoners die laaste lag sal hê wanneer hulle weer stembusse toe gaan. “Ons sal almal vir jou stem in die volgende verkiesing … Aprilgek!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Merkwaardig. In Frankryk is hulle bekommerd oor ‘n werkloosheidsyfer van 11%. Hulle doen alles in hulle vermoë of die syfer laag te hou en selfs nog laer te maak.

Sal nogal gaaf wees indien die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika ook 11% was.

Op 1 April veral lees ek elke berig met die datum in gedagte. Lyk my die Franse neem deesdae alles erenstig op. Hulle het nie meer tyd vir grappe en poetse nie. Nie eers op 1 April nie.

Blommie ·

Ek dink nie dit was vreeslik snaaks nie. Veral nie iemand wat sukkel om die pot aan die kook te hou nie. Dink jou probleme is oor en jy gaan jou gesin kan versorg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.