Geen katte buite sonder leibande, meen raad

Argieffoto (Foto: avbocherikov/Pixabay)

ʼn Raad in Australië beplan om katte buite te verban tensy hulle aan ʼn leiband vasgemaak is.

Die katte sal nie in Fremantle, in die weste van Australië, in die straat, in parke of op sypaadjies toegelaat word sonder ʼn leiband nie. Lede van die raad het die voorstel deur raadslid Adin Lang goedgekeur omdat dit ander wilde diere sal beskerm en voorkom dat katte deur voertuie getref word.

“In die 1970’s het honde in die strate rondgeloop en ek verwag dat rondloper-katte ook binnekort iets van die verlede sal wees,” het Lang aan Perth Now gesê.

Western Australia Today berig Tom Hatton, voorsitter van die WA Feral Cat Working Group, het onlangs ʼn voorlegging aan die Fremantle-raad gemaak waarom kat-eienaars hul troeteldiere by die huis moet hou. Volgens hom plaas rondloperkatte baie druk op stedelike wilde diere en wetenskaplikes voer aan huiskatte leef langer en is baie gesonder as hulle nie toegelaat word om vrylik rond te beweeg nie. “Stedelike katte maak 30 keer meer diere dood as volwasse katte in die bos,” aldus Hatton.

Beamptes sal nou ʼn wysiging tot bestaande wetgewing saamstel en die raad sal dan besluit of hulle ʼn openbaredeelname-proses van stapel wil stuur.

Fremantle het in 2020 ook wetgewing gewysig waarvolgens huiskatte ouer as ses maande gesteriliseer moet wees, hulle moet ʼn mikroskyfie hê, hulle moet ʼn halsbandjie met inligting hê en hulle moet by hul plaaslike regering geregistreer wees. Enige geregistreerde kat wat in ʼn gebied gevind word waar katte nie toegelaat word nie, het ʼn boete van $200 vir sy eienaar op die hals gehaal. Volgens wetgewing moet eienaars ook ʼn permit hê as hulle meer as drie katte wil aanhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

casper ·

Ja nee – Soveel vir vryheid in Australia — Nie eens ‘n kat kan rondloop nie !!!

KhoiKhoi ·

Wens dit wil wetgewing hier word.
Ek is moeg om half gevrete voëls op te tel, my bedding omgekrap en te doen te hê met katte ontlasting.
Ek het nie troeteldiere nie want dit pas nie in my leefstyl nie maar ek het ergernis met die buurt se katte!

Rina ·

Dit pas nou maar dit my beslis nie. Ek het 6 katte en almal is gesteriliseer en geniet hulle vryheid en pla geen van my bure nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.