Gekoude kougom word kunswerke

Van Ben Wilson se “kougom-kunswerke” (Foto: benwilsonchewinggumman/Instagram)

Ben Wilson (57) is die afgelope 15 jaar al besig om stukkies kougom as kunswerke te herwin.

Wilson soek die stukkies kougom wat aan ʼn voetbrug oor die Teems in Londen geplak word. Hy verf dan dié gekoude stukkies kougom om dit in klein kunswerke te omskep.

Wilson het aan AFP gesê hy beskou dit as herwinningswerk en ʼn tipe kuns. “Ek omskep die gemors in ʼn tipe kunswerk – so dit is ʼn tipe herwinning. Dit is om ʼn onbedagsame daad in iets positief te omskep.”

Sy kleurvolle kunswerke, wat skaars groter is as ʼn klein muntstuk, kan oral langs die voetgangerbrug en die omliggende dele opgemerk word. As voetgangers nie mooi kyk nie, sal hulle dit dalk misloop.

Wanneer hy die kougom verf waar dit vasgeplak is, maak hy seker dat hy nie verf op die metaalstruktuur mors nie, om seker te maak dat hy nie van vandalisme beskuldig word nie. “Die persoon wat die kougom oorspronklik daar gelos het, is die oortreder. Die impak wat mense op hul omgewing het, is betreurenswaardig met die hoeveelheid gemors wat ons veroorsaak.”

Hy reken hy het al “duisende en duisende” stukkies kougom in kunswerke omskep en is trots op sy “geheime kuns” wat nou oor die middestad van Londen pryk.

Wilson werk saam met galerye en ander kunstenaars vir ʼn inkomste.

Volg Wilson op Instagram by @benwilsonchewinggumman

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Porseleintjie

So oorspronklik en werklik iets om te geniet. Dankie Maroela vir die interessante artikel. Lekker afwisseling van die gewone politiek en misdaad artikels.

Plaaskind

Oulike kunswerke, maar die idee van die gekoude kougom is grillerig……

Vriendelike Frikkie

Ek weet nie hoekom mense kougom onder tafels en stoele vasdruk nie; dit proe dan nog OK… ;-)

Smurf

Ggggggggg…. hoe klou my tande nou aan mekaar !