Gesin se tuisvideo vir $760 000 op veiling verkoop

Skermgreep uit die “Charlie Bit My Finger”-video

Nóg ʼn klassieke stukkie internetkultuur is vir ʼn yslike bedrag verkoop, ʼn tuisvideo van twee boeties. Die video, “Charlie Bit My Finger” is Sondag vir byna $761 000 (sowat R10,5 miljoen) opgeraap deur digitale versamelaars van nieverwisselbare items (NVI’s).

In die 55 sekonde lange YouTube-video uit 2007 hou ʼn Britse kleuter genaamd Harry sy bababoetie Charlie vas. Die oulike toneel neem dan ʼn skielike wending wanneer Harry sy wysvinger in sy boetie se mond druk. Charlie byt sy vinger en dan bekla Harry die situasie met die nou bekende uitdrukkings, “ouch, Charlie” en “Charlie, that really hurt”.

Die video is meer as 883 miljoen keer op YouTube gekyk en maak dit een van dié sosialemediaplatforms se mees gewilde video’s. Dit sal egter binnekort verwyder word van die platform. Die Davies-Carr-gesin het aangekondig hulle sal dit ná Sondag se veiling verwyder en die hoogste bieër sal “die alleen-eienaar word van hierdie geliefde stuk internetgeskiedenis”.

Die video is egter al talle kere gekopieer, gedeel en weer gedeel op die webwerf. Die video word onderaan dié artikel gedeel vir solank as wat dit by die betrokke skakel beskikbaar is.

Die veiling het aanbiedings van 11 rekeninge gekry en ʼn bie-oorlog laat ontstaan tussen twee gebruikers “mememaster” en “3fmusic”. Laasgenoemde het uiteindelik die veiling gewen met ʼn aanbod van $760 999.

‘n Nieverwisselbare item (NVI) (Engels: non-fungible token – NFT) is ‘n spesiale soort kriptografiese item of bewys wat iets unieks voorstel. Nieverwisselbare items is dus nie onderling uitruilbaar nie. Dit is in teenstelling met kripto-geldeenhede soos bitcoin, en baie netwerk- of hulpbronbewyse wat vervangbaar van aard is.

NVI’s is in effek digitale bates met ʼn egtheidsertifikaat. Alhoewel sommige verward sou wees oor die idee dat jy iets aankoop wat oneindig gereproduseer kan word, is daar tans ʼn groot aptyt vir NVI’s in markte wêreldwyd omdat kopers graag wil spog dat hulle oor die gesertifiseerde oorspronklike item beskik.

Aandenkings uit die begindae van die internet insluitend meme, GIF’s, foto’s en video’s, vaar baie goed. Jack Dorsey, hoof van Twitter, het in Maart sy eerste Twitter-plasing (uit 2006) vir $2,9 miljoen (sowat R40 miljoen) verkoop aan ʼn Maleisiese sakeman. Die plasing lui bloot “just setting up my twttr”.

ʼn Anonieme koper het Nyan Cat, ʼn 10 jaar oue animasie van ʼn vlieënde reënboogkat, in April vir $590 000 (sowat R8,1 miljoen) opgeraap.

“Disaster Girl”, ʼn 16 jaar oue foto van ʼn kleuter wat skalks glimlag met ʼn huis in die agtergrond wat in ligte laaie staan, is deur ʼn Doebaise musiekateljee aangeskaf vir 180 Ethereum – in daardie stadium gelykstaande aan byna R7 miljoen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

A ·

Ek weet nie waaroor is ek meer verbaas nie.

Dat iemand ‘n 14 jarige video kan verkoop vir ‘n belaglike hoeveelheid geld, of dat Maroela ‘n Afrikaanse vertaling kon kry vir NFTs.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.