Gʼn water meer vir personeel nie, sê maatskappy

Die foto wat op Reddit gedeel is

ʼn Onbekende maatskappy het onder skoot gekom ná die bestuur aangekondig het dat hy nie verder water beskikbaar sal maak aan sy personeel om te drink nie. Die bestuur meen die werknemers het “die voorreg misbruik”.

Dit is baie belangrik om deurlopend water te drink om jouself te hidreer, jou organe gesond te hou en infeksie te voorkom.

Dit maak dus net sin dat jy toegang tot skoon drinkwater moet hê wanneer jy minstens agt ure per dag by die werk spandeer.

Een maatskappy in die VSA word egter aanlyn veroordeel nadat die bestuur ʼn kennisgewing uitgestuur het om sy personeel in kennis te stel dat hulle nie meer water sal kan verskaf nie.

Die kennisgewing is later op Reddit gedeel deur die kêrel van iemand wat daar werk. In sy plasing op die “Anti Work”-forum, verduidelik die man: “Die plek waar my meisie werk het pas dié kennisgewing opgesit in die teekamer. Die maatskappy het verlede jaar rekordwins getoon.”

Die kennisgewing lui: “Ons kan vanaf Maandag 03/21 nie meer water vir die span verskaf nie. Ons het die voorreg misbruik. Dankie, Bestuur.”

Die kêrel het later bygevoeg bestuurders het gebottelde water aan personeel verskaf, maar dit is nie in hul inventaris aangeteken nie, so hulle het ʼn paar dosyn bokse water “verloor” en die bestuurders het in die moeilikheid beland.

“So tegnies het die bestuurders ʼn fout gemaak met die inventaris en nou moet die werknemers daarvoor boet.”

Die kantoor het ʼn waterfontein, maar die man voer aan dié water is gereeld warm en is nie so geskik om te drink as gebottelde water nie.

“Ek verstaan hulle het ʼn waterfontein wat tegnies water verskaf, maar die water is lou tot warm. So omdat dit tegnies drinkbaar is, reken ek hulle sal daarmee kan wegkom.”

Gebruikers het vinnig die besluit veroordeel en gesê om water te kan drink is ʼn reg, nie ʼn voorreg nie. “Ek is redelik seker hierdie oortree arbeidswetgewing,” meen een persoon. “Dis onwettig om nie water aan jou werkers te verskaf nie,” sê ʼn ander.

Die beroepsveiligheid- en gesondheidsadministrasie (Osha) in die VSA bepaal dat werkgewers drinkwater aan alle personeel beskikbaar moet maak, maar dit hoef nie gebottelde water te wees nie. Water uit ʼn fontein is ook voldoende om aan die Osha-vereistes te voldoen, indien dit “voldoen aan die gesondheid- en persoonlike behoeftes van elke werknemer” en dat werknemers toegang het tot enkelgebruik-koppies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Witbaard ·

Volgens SA se Facilities Regulations, soos vevat in die OHS Act, moet die werkgewer drinkwater beskikbaar stel vir sy werkers. Dit stipuleer egter nie dat dit gebottelde water hoef te wees, of verkoel te wees nie. Ongelukkig vir die meeste mense, is daar altyd n groepie wat die sisteem misbruik en dan ly almal daaronder. Afgesien daarvan, is die werkgewer eintlik gevoelloos teenoor sy werkers. Dan verwag hy 100% produktiwiteit en lojaliteit……skande!!!!!!

DieKriek ·

Nee, nie skande nie. Ons moes kraanwater drink by die werk en dit self in die yskas sit as ons dit koud wou hê. Yskasgeriewe was verskaf. Dis net belaglik waarop mense deesdae aandring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.