Gou, bestel 31 burgers toe ma wegkyk!

Klein Barret het ongesiens 31 kaasburgers bestel. (Foto: Kelsey Burkhalter Golden/Facebook)

’n Tweejarige seuntjie van Texas blyk die enigste een van sy gesin te wees wat ’n liefde vir ’n kaasburger koester. Klein Barret Golden het onlangs nie een nie, nie twee nie, maar 31 kaasburgers op sy ma se selfoon by McDonalds bestel toe sy vergeet het om haar selfoon te sluit.

Klein Barret was selfs bedagsaam genoeg om ’n “baie vrygewige” fooitjie vir die afleweraar te los.

Groot was Kelsey Burkhalter Golden se skok toe die afleweringsdiens DoorDash verlede Maandag onverwags laat weet dat haar bestelling ’n tydjie gaan neem om voor te berei, voordat ’n afleweringsmotor met ’n groot bruin sak van McDonalds voor haar huis in Kingsville stilgehou het.

“Ek het 31 gratis kaasburgers van McDonald’s as iemand belangstel,” het Golden die middag op Facebook laat weet. “My tweejarige weet blykbaar hoe om DoorDash te bestel.”

Golden verduidelik dat klein Barret mal is oor die kamerafunksie op haar selfoon. “Hy hou daarvan om na sy weerkaatsing te kyk.” Golden het verlede Maandag tuis gewerk toe Barret weer haar foon gryp. Dít sonder dat sy ma haar selfoon se skerm gesluit het.

Die kleinding se transaksie het sy ma eindelik $91,70 (byna R1 500) uit die saak gejaag aangesien hy ook ’n 25% fooitjie betaal het.

“Niemand in ons gesin hou eers van kaasburgers nie,” sê Golden.

Die hamburgers is egter nie vermors nie. “’n Vrou het verbygekom. Sy was swanger en wou ses van hulle gehad het. Ek oordeel nie.” Golden het ook ’n paar hamburgers onder haar bure uitgedeel.

Barret en sy ouers is intussen na die plaaslike McDonald’s genooi waar klein Barret die kitskosrestaurant se gelukbringers kon ontmoet, foto’s neem en ʼn paar hoender-“nuggets” kon geniet.

“Ek hoop dit sorg vir ’n bietjie humor in ’n hartseer donker wêreld,” sê Golden.

Bronne: CNN, USA Today

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Misky ·

Hy lyk baie selfvoldane in die fotos en selfs stoute glimlag in die eerste foto. Hy dink seker: “Ek het mos gesê ek is lus vir ‘n burger, nou kyk nou net!!!” – ha ha ha ha

Miena ·

Blykbaar was daar nie ekstra proteine saam met die mayo op die burger nie… lekker lag ek by myself oor ons Secunda McD- grap van die maand flater.

ditiswatekdink ·

Ek glo die storie nie vir n oomblik nie.
2 jaar oud ! en hy weet hoe om te bestel op n selfoon, en selfs n fooitjie in te werk. Kaart nommer en kode te gee.
Soos hulle se “fake news”.
Die McDonald’s persoon wat die bestelling gedoen het, sou ook agtergekom het iets fout.
Ouers wil net sensasie he.

Wat op dees Aarde ·

Toe nie “sensasie” nie. Al my kaarte is op al my toeps op my foon gestoor. My suster se 1.5 jarige het vir homself lekker bederf met speelgoed op Takealot. Toe ek weer sien daag Takealot se motorfiets op en lewer my pakkie af. Maak hom oop, Dis net speelgoed. Nee, hierdie goed gebeur gereeld.

LeanetteS ·

Ai toggie, dis oral op nuus, CNN, ens!!! Ongelowige, ‘ditiswatekdink’?

Linda ·

Ek kan jou twyfel verstaan, maar deesdae met ‘n App praat jy nie met ‘n werklike persoon nie. Jy kliek net “Next” en weer en weer en Pops your uncle. Ek het ‘n pakkie onlangs met PUDO weggestuur en nie een keer met ‘n werklike persoon gepraat nie. So dit is seker moontlik as haar kaartbesonderhede op die App gestoor was. En die fooitjie by een van die “next” klieke bygereken word.

KO ·

2 jariges is bitter slim. . . EK het al my apps geblock nou met vingerreaders sodat my mensie nie daar kan inkom nie… Hy het op n stadium sy oupa en ouma elke liewe dag gewhatsapp video call. Hulle druk knoppies en kry goed reg wat bo wonders is. . . en vandag se lewe met apps hoef jy nie eens meer regtig goed te approve nie en selfs met sms approval trek dit reguit deur na jou app toe. . .te slim en te slim. . .

VaalDonkie ·

Ek laat my nie vertel iemand hou nie van ‘n “cheeseburger” nie. Selfs McDonald’s maak ‘n lekker een

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.