Groep kroek met Bluetooth-sandale

ʼn Man wys ʼn plakkie met ʼn versteekte Bluetooth-toestel (Foto: AFP)

Tien mense is in Indië in hegtenis geneem toe hulle tydens uiters mededingende onderwys-eksamens met Bluetooth-toestelle in hul plakkies wou kroek.

Kullery is al lank ʼn probleem in Indië en polisie het Sondag toestemming gehad om internettoegang te verbied tydens die staatseksamen waaraan 1,6 miljoen studente in Rajasthan deelgeneem het.

Een groep was egter van plan om dit te omseil deur toestelle in die sole van hul plakkies te installeer wat gewone oproepe kon ontvang en dan draadloos inligting na klein gehoorstukkies kon stuur.

Die plan was dat medepligtiges buite die lokaal die versteekte toestelle sou skakel en dan die korrekte antwoorde op die vrae sou verskaf, sê Priti Chandra, ʼn polisiebeampte in die westelike stad Bikaner.

Die groep voornemende onderwysers is in hegtenis geneem toe hulle die aand voor die eksamen buite die eksamen-lokaal verdag opgetree het. Die toestelle is in hul skoene opgespoor.

“Ons het geweet die moontlikheid bestaan vir ʼn kullery, maar ons het gedink dit sou ʼn vraestel wees wat uitgelek het of iemand wat die internet wou gebruik – dis hoekom internettoegang in soveel stede verbied is,” het Chandra aan AFP gesê. “Hierdie is egter ʼn splinternuwe modus operandi. Hulle word tegnies al hoe slimmer.”

ʼn Ondersoek het onthul dat minstens 25 studente die plakkies by ʼn bende gekoop het teen 600 000 roepees (sowat R122 300) per paar.

Die inligting is betyds met verskeie ander distrikte gedeel voor die eksamen en talle sentrums het studente gevra om hul skoene buite die lokaal te los.

“In een geval het ons ʼn student ná die eksamen gevang. Hy is na ʼn dokter geneem sodat die Bluetooth-toestel in sy oor geïdentifiseer en verwyder kon word,” het Chandra bygevoeg.

Kullery is algemeen in Indië se hoogs mededingende staat-, universiteit- en skooleksamens. Owerhede het ʼn groot stryd teen metodes wat al hoe meer gesofistikeerd raak en mense help om die eksamen te slaag. Dit sluit in professionele mense wat ʼn bestaan maak deur hulself voor te doen as iemand anders en dan die eksamen namens daardie persoon skryf en bendes wat eksamenvraestelle op ʼn onwettige wyse bekom en dit dan verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Misky ·

Pleks hulle maar net daai tyd en energie gebruik om te leer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.