ʼn Tiener van die Amerikaanse deelstaat Nevada het die sosiale netwerk Twitter se voorheen gewildste twiet óóit, wat meer as 3,4 miljoen keer hertwiet is, onttroon met ʼn twiet oor hoenderhappies.
Die Amerikaanse kletsprogram-aanbieder en komediant Ellen DeGeneres het in 2015 geskiedenis gemaak toe ʼn foto van haar saam met ʼn klomp bekendes by die Oscar-toekennings nagenoeg 3,4 miljoen keer hertwiet is.
Die komediant het dié rekord langer as ʼn jaar gehou, maar Carter Wilkerson van Nevada, wat ʼn voorliefde vir hoenderhappies het, het haar vandeesweek amptelik onttroon.
Wilkerson het hom op 6 April tot dié platform gewend om aan die kitskosgroep Wendy’s te vra hoeveel keer sy inskrywing hertwiet sal moet word vir ʼn jaar se voorraad van dié happies.
Nadat die groep met “18 miljoen” geantwoord het, het hy in ʼn boodskap aan Twitter-gebruikers gevra om dié droom waar te maak. “Help me please,” lui sy inskrywing. “A man needs his nuggs.” [sic]
Dié inskrywing is teen 10 Mei meer as 3,5 miljoen keer hertwiet – amper 100 000 keer meer as DeGeneres se foto.
Groot maatskappye soos Microsoft en Amazon het hom ook in sy poging gehelp.
Hoewel die twiet nog nie 18 miljoen gehaal het nie, het Wendy’s intussen gesê 3,5 miljoen is meer as genoeg om vir hom ʼn jaar se voorraad van sy gunsteling-hoenderhappies te gee.
Die absolute banaliteit en absurditeit van sogenaamde “sosiale media.” In vergelyking is kinderagtighied volwasse.