Hakkies wil sy (nie) dra

Argieffoto (Foto: stokpic, Pixabay)

Navorsers het versoek dat vroue nie meer gedwing word om hoëhakskoene werk toe te dra nie.

Akademici by die Universiteit van Aberdeen het wetenskaplike studies gedoen oor die skoene en gesê dat meer gedoen moet word om die probleem aan te spreek.

Die navorsing het bewys dat mans vroue met hoëhakskoene meer aanloklik vind, maar daar is ook talle studies wat wys dat dit die risiko verhoog om skeletprobleme of beserings op te doen. Die akademici het daarop gewys dat hoëhakskoene tot rugpyn, gebreekte en geswikte enkels kan lei.

Byna tweederdes van sakevroue dink hoëhakskoene maak hulle meer aantreklik – dit is ‘n hupstoot vir die selfbeeld, selfvertroue en algemene welstand.

Die Verenigde Koninkryk het vroeër vanjaar ʼn versoek, dat ʼn verbod geplaas moet word om vroue te dwing om hoëhakskoene te dra, verwerp. Die ministers het gesê bestaande wette is voldoende om diskriminasie te hanteer ná ʼn ontvangsdame, Nicola Thorp, huis toe gestuur is toe sy geweier het om hoëhakskoene werk toe te dra.

Die vrou, wat tydelik in diens was van PwC in Londen, het met plathakskoene by die werk opgedaag, en is gesê dat haar hakke minstens tussen 5 cm – 10 cm hoog moet wees.

Sy het ʼn petisie opgestel om dit onwettig te maak vir maatskappye om van vroulike werknemers te vereis om hoëhakskoene te dra en meer as 152 400 persone het dit onderteken.

Die navorsers het die reaksie van die Britse regering vergelyk met British Columbia in Kanada, wat reeds die wet gewysig het om werkgewers te verbied om hoëhakskoene te vereis.

Dr. Max Barnish, hoof van die navorsingspan, het gesê dit is duidelik dat daar ingewikkelde sosiale en kulturele redes is wat hoëhakskoene meer aantreklik maak. “Ons voel die Britse regering moet die leiding volg van ander owerhede wat spesifieke wette ingestel het om dié praktyk aan te spreek, eerder as om net staat te maak op bestaande wetgewing wat dit blootstel vir verkeerde interpretasie. Die saak is ook tot dusver in Engeland aangespreek deur gelykheidswette.” Barnish het gesê daar is egter ʼn behoefte dat sekere lande binne die Verenigde Koninkryk, soos Skotland, kan oorweeg om verdere maatreëls in te stel onder gesondheidswetgewing.

“Ons wil natuurlik nie vir enigiemand sê dat hulle hoëhakskoene moet of nie moet dra nie, maar ons hoop dat hierdie hersiening vroue sal help om die gesondheidsrisiko’s op te weeg teen sosiale voordele, en om druk te plaas op wetgewers om die wetgewing te wysig om seker te maak dat niemand gedwing word om hoëhakskoene in die werkplek of in enige gelisensieerde openbare plekke te dra nie,” het Dr. Heather Morgan, lektor by die universiteit, gesê. “Die verwagting is ongelukkig nie altyd duidelik nie en sommige persone kan gedwing voel, selfs al beskerm die wet hulle.”

-Independent UK

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lollie ·

Mense sal altyd verskil van mening maar my mening is: ń vrou lyk deftiger in ń hoë hak skoen! Deur ondervinding moet ek sê ek voel deftiger, netjieser en meer in beheer. Plat skoene voel of jy slof. Hoë hak skoene is beslis ń moet as jy netjies wil lyk. Ander sal van my verskil maar vat ń dame, trek haar netjies aan en neem foto’s waar sy hoë hak skoene aan het en een waar sy plat skoene aan het en vergelyk hulle. Hoë hakke gaan wen!

Liefie ·

Lollie ek stem 100 % saam met jou. Ek dra elke dag van maandag tot vrydag hak skoene want ek verkies om netjies te lyk. Ek het sowat twee jaar terug vir n maatskappy begin werk en dit het die laaste ruk vir my opvalend geword hoeveel dames in ons kantoor ook nou hakke begin dra. As jy sien hoe onversorg party dames kantoor toe gaan in vandag se tye is dit om van te skaam. Nee man trek jou hakke aan en wees trots VROU!!

ho Sum ·

Dis hoe jy voel. Mens hoef nie jou eie gevoelens op ander af te dwing., of hulle te veroordeel as hulle nie nadoen nie

Louise ·

Ek stem Lollie n vrou lyk deftiger…. Maar wat ek ook al baie gesien het, is vrouens trek daai hakkies HEELTEMAL by die verkeerde klere aan en dan lyk dit erger as plat skoene.
Die hakkies kom saam die OUTFIT en baie keer die lyfie ook,
Ek dink mens lyk deftig wanneer jy aantrek wat by jou pas, plat skoene of hakkies.

Uvonka ·

Ek is 54 en hakkies WIL ek dra. Dit is vir my baie vroulik en elegant. Ek dra selfs hoe hak skoene wanneer ek gaan dans. Geen sloffies vir my nie. Dit is net my persoonlike smaak!

corne ·

Ek het al die jare wat ek werk hakke gedra en ja ek stem saam dat dit ‘n dame deftig laat lyk, maar vandag kan ek nie meer hakke dra nie, ek sukkel met my voete en my rug en plat skoene is my voorland .Gelukkig kry mens mooi plat skoene wat ook deftig is en dit laat jou nie slordig lyk nie.

Yvonne ·

Ek stem nie saam met julle nie. Mens kry die mooiste plat skoene denkbaar en saam met die regte uitrustings sal jy nogsteeds ongelooflik mooi en deftig lyk. Nie almal kan hoe hakke dra nie, ek self is 6voet en met die verskriklike hoe hakke sal ek dit nie durf waag nie. Die kort kitty heals en plat skoene is die ding vir my en trust my ek lyk vroulik en deftig. Mens kan nie iemand definieer deur die hakke wat hulle dra nie

Ria ·

Ek dra hakskoene en voel dan sommer die dag mooi en spesiaal. Dit doen my ego baie goed om my hakkies werk toe te dra. Lyk sommer slanker ook.

M ·

Hakke kan deftig lyk. Maar o genade, daar is ‘n paar dames wat skaars 2 tree met daai skoene kan loop, maar dra sal hulle dit dra. My moeder het baie hakke gedra en ‘n paar jaar terug saam met Boetiek pakkies, vandag op haar oudag gee haar voete haar baie problem agv die nou punt skoentjies voor en die vreeslike hakke. Ek het self probleme met my voete en vandag ek plat skoentjies dra is die probleme iets van die verlede. Ek lyk maar eerder bietjie platvloers, maar ten minste weet ek dat ek nie in die aande met seer voete sit nie en my voete is gesond.

SP ·

Dis ongelooflik hoe mense nog vasgevang is in die verlede,hoe kan n firma n dame dwing om hoe hakke te dra,belaglik,dit gaan net oor daardie firma se eie gewin en buit hul dames so uit.

Liza101 ·

Ek werk vir ‘n maatskappy wat vereis dat dames hakke dra wat tussen 2cm en 7cm hoog is, geen platform skoene word toegelaat nie en jou sandaal moet ‘n bandtjie oor die voet he indien jy ‘n rok of romp dra (geen slip-on’s nie) Ek voel die reels is nodig! As jy dit net los sal party met hulle pantoffels kom werk! Wat my logika vir my se nie aanvaarbaar is nie, is vir die volgende persoon heeltemal aanvaarbaar. Ek dink daar kan eerder wetgewing wees oor die hoogte van die hakke want party loop maar soos krappies rond op die stelte wat hulle dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.