Hoekom dié vrou 100 dae lank dieselfde rok gedra het

Foto: thisdressagain/Instagram

Sarah Robbins-Cole het dieselfde swart rok vir meer as drie maande lank gedra. Die 52-jarige vrou van Boston in die VSA het tonge laat klap op die internet toe sy aan dié unieke uitdaging, om dieselfde rok vir 100 dae lank te dra, aangepak het.

Sy het in September verlede jaar met die uitdaging begin en dieselfde swart merinowolrok elke dag gedra in ʼn poging om haar lewe te vereenvoudig en nie die jongste modeneigings slaafs na te volg nie, berig The Mirror.

Sarah, ʼn kapelaan by ʼn kollege, het die Rowena-rok werk toe en kerk toe gedra. Sy het dit gedra wanneer sy gaan stap het en selfs tydens Kersfees. Sy het met behulp van bykomstighede, kleurvolle baadjies, langbroeke, serpe en rompe die kledingstuk opgekikker, na gelang van die geleentheid.

Vir 100 dae lank het sy op Instagram met haar style gespog en verduidelik waarom sy dié uitdaging aangepak het. “Om net een rok vir 100 dae lank te dra is ʼn waardevolle les vir hoe min ons werklik nodig het!” het sy verduidelik. “In die negentiende-eeuse plaashuis waarin ek in Vermont grootgeword het, was die hangkaste piepklein. Die oorspronklike inwoners kon nooit geraai het hoe goedkoop klere sou word en dat dit van so ver as China ingevoer sou word nie of hoeveel klere meeste mense in die VSA sou koop, besit, was en binne ʼn jaar of twee weer daarvan ontslae raak nie.

Sy is nie die enigste vrou wat aan dié uitdaging van die Amerikaanse handelsmerk wool& deelgeneem het nie. Dié handelsmerk bevorder drie beginsels: leef eenvoudig, verbruik sorgvuldig, en doen goed. “Ons het die Rowena Swing Dress gemaak en die 100 Day Challenge aangebied om dié drie beginsels te bevorder,” verduidelik wool& op sy webwerf.

Van die 250 persone wat dit aangepak het, het slegs 13 vroue dit voltooi.

Deelnemers kon die rok oornag was, maar hulle moes dit weer aantrek sodra hulle wakker word. Persone wat die uitdaging voltooi het, het ʼn $100-geskenkbewys vir ʼn nuwe Wool&-rok ontvang.

Sarah sê dit het haar geïnspireer om ʼn nuwe uitdaging aan te pak: tussen 1 Januarie 2021 en 1 Januarie 2022 gaan sy nie enige nuwe klere of bykomstighede aanskaf nie.

Klik hier om meer te lees oor Wool& se uitdaging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Zombie ·

Mense se waardes verskil. Vir sommige is eenvoud miskien belangriker as verveling.

Twopence ·

Dink net hoe dit ‘n mens se verbeelding vlerke kan gee!

Hompie ke Dompie ·

Laat my dink aan toe ons op die grens was in ons weermag jare.

Danie ·

Ek twyfel of the “made in China” solank sal hou. Dat jy die klere 100 dae na mekaar kan dra en elke aan was spreek nogal boekdele vir die kwaliteit. Dit mense 100 dae na mekaar dieselfde klere kan dra spreek ook boekdele oor hoe hulle oor kwaliteit voel.

In teenstelling daarmee is die mense met vervelige persoonlikhede en leefwyses wat dit moet opkikker deur klere en ander bykomstighede…

Misky ·

Ek kan nie besluit of dit lawwigheid is of eintlik baie slim en mens se kreatiewe denke prikkel nie

Eend Bessinger ·

Ek haal my hoed af vir mense wat nie omgee wat die huidige mode sê nie. Ek gee self nie om om elke dag amper dieselfde klere te dra nie. BAIE minder kopsere!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.