Hoëvlaktegnologie help met insig in armadil-akkedisgedrag

Armadil-akkedis in ’n bal opgerol: Die armadil-akkedis se kenmerkende truuk is sy vermoë sy eie stert vas te byt en in ’n ondeurdringbare bal vol doringrige stekels op te rol. Terwyl hulle pantserpakke hulle teen klein predatore soos meerkatte en muishonde beskerm, maak dit hulle ook aansienlik stadiger en meer kwesbaar vir aanvalle deur roofvoëls. Foto: Le Fras Mouton

Armadil-akkedis in ’n bal opgerol: Die armadil-akkedis se kenmerkende truuk is sy vermoë om sy eie stert vas te byt en in ’n ondeurdringbare bal vol doringrige stekels op te rol. Terwyl hulle pantserpakke hulle teen klein predatore soos meerkatte en muishonde beskerm, maak dit hulle ook aansienlik stadiger en meer kwesbaar vir aanvalle deur roofvoëls. Foto: Le Fras Mouton

Video’s van die akkedisse volg onderaan die fotogallery. Toe die Matie en PhD-student Chris Broeckhoven hoor dat hy aan die Weskus ʼn skuiling moet bou om die akkedisse waaroor hy so passievol is, dop te hou, het hy besluit hy gaan geensins vir ʼn jaar lank elke dag in die versengende hitte van die Afrika-son sit nie.

“Ek is baie gesteld op tegnologie en daarom het dit sin gemaak om voort te bou op die tegnologie wat alreeds met vrug in die praktyk gebruik word,” het Broeckhoven gesê. “Die Cape Leopard Trust het gewys dat infrarooikameras doeltreffend is in die monitering van dieregedrag. Maar aangesien akkedisse koudbloedig is, moes ek ʼn super sensitiewe alternatief vind.”

Maar dit het nogal oorredingsvermoë gekos om sy studieleier, prof. Le Fras Mouton van die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch, te oortuig dat sy tegnokontrepsie sal werk.

Broeckhoven het 10 kameras met ʼn baie lang batteryleeftyd wat ook uiterste somerhitte kan weerstaan uit die VSA laat kom. Op ʼn plaas aan die Weskus het hy vyf van die kameras direk voor die rotse geplaas waar ʼn groep armadil-akkedisse (Ouroborus cataphractus) bly. Die ander vyf kameras is lukraak in die omgewing geplaas om vas te stel watter predatore teenwoordig is en wanneer.

“Die kameras voor die rotse het twee funksies vervul,” verduidelik Broeckhoven. “Die belangrikste was om elke vyf minute, vir 13 ure per dag vir 365 dae, ʼn foto te neem. Omdat ek niks wou mis nie, het die kameras ook foto’s geneem van enigiets wat beweeg, soos akkedisse wat veg of eet of paar.”

Meer as 580 000 foto’s later, het Broeckhoven 222 000 geïdentifiseer wat gebruik kon word vir die analise van die akkedisse se gedrag. Die ander foto’s was van skape, van gras wat in die wind beweeg, en van nóg skape.

Die versamelde fotodata het ʼn paar diepgewortelde aannames in die herpetologie oor akkedisgedrag nekomgedraai: “In baie studies aanvaar wetenskaplikes dat temperatuur die grootste bepaler van alle akkedisgedrag is. Ek kon wys dat die armadil-akkedisse se gedrag ook beïnvloed word deur lewenstylkwessies, soos om te moet kompeteer om kos in die hande te kry, en om predatore suksesvol te vermy.”

Mouton wat meer as 20 jaar ervaring in die bestudering van hierdie akkedisse het, sê Broeckhoven het die laaste stukkie van die legkaart suksesvol ingepas. “Ons weet dat die armadil-akkedisse ʼn unieke sosiale sisteem het. Anders as ander akkedisse wat meestal vinnig en alleen rondbeweeg, leef groot groepe armadil-akkedisse vir baie jare in dieselfde rotsskeur. Broeckhoven het gewys dat ʼn groot groep die voordeel het dat hulle ’n predator gouer kan gewaar, maar dat die groepslewe ook die kompetisie vir kos verhoog,” verduidelik hy.

Uit die studie blyk dit dat die armadil-akkedis se gedrag selektief is en nie slegs afhanklik van die temperatuur nie: “Armadil-akkedisse ‒ stadig vanweë hulle swaar pantserdrag ‒ leef op insekte gedurende die lente wanneer die digter plantegroei help om hulle teen roofvoëls te beskerm. Gedurende die somer, wanneer die meeste ander akkedisse op hulle aktiefste is, is armadil-akkedisse meestal onaktief.”

Mouton sê hierdie gedrag moes oor duisende jare ontwikkel het as ʼn oorlewingstrategie: “Ons het waargeneem dat, selfs al is daar ʼn paar insekte, sal die groep armadil-akkedisse dit ignoreer. Dit is net eenvoudig nie die moeite werd vir hulle om oor beperkte kosvoorrade te baklei nie.”

Daar is wel tye gedurende die droë seisoen wanneer hulle die rotsskeur verlaat om op termiete te gaan vreet om hulle deur te sien. Hoewel dié gedrag hulle blootstel aan predatore, verlaag dit die kompetisie vir kos en kan hulle sodoende op die lang termyn in groepe voortleef, verduidelik hy.

Broeckhoven, wat in Maart 2015 sy PhD-graad sal verwerf, het by die twaalfde Konferensie van die Herpetologiese Vereniging van Afrika wat onlangs by die Gobabeb Navorsings- en Opleidingsentrum in Namibië gehou is, die toekenning gekry vir die beste voordrag deur ʼn doktorale student. Die titel van sy voordrag was “Effects of predation risk, competition and climatic factors on the activity patterns of Ouroborus cataphractus and Karusasaurus polyzonus (Squamata: Cordylidae)”.

Hy het onder meer ʼn National Geographic Young Explorers toekenning ontvang wat sy navorsing gedeeltelik gefinansier het.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.