Laura Murray was ʼn 10-jarige meisie en het saam met haar kinderoppasser buite die gesin se huis in Cincinnati gespeel, toe haar ma ʼn klein buisie met grys stof aan haar oorhandig het. Haar ma het verduidelik dié stof kom van die maan af.
Saam met die buis was daar ʼn handgeskrewe briefie: “Aan Laura Ann Murray – Baie sterkte – Neil Armstrong Apollo 11”.
Murray, nou Laura Cicco, het dekades lank nie die buisie vol stof onder oë gehad nie, alhoewel sy die briefie in haar slaapkamer bewaar het. Haar ouers is vyf jaar gelede oorlede en toe sy hul besittings deursoek, het sy weer op die buisie stof afgekom.
“Hier is die maanstof, ek het dit!” het Cicco vir haar man gesê. “In daardie stadium het ons nie geweet wat om daarmee te doen nie.”
Cicco het verlede week ʼn dagvaarding op Nasa bedien om seker te maak dat sy die stof kan behou wat “regmatig” aan haar behoort. Dit is ʼn poging om te verhoed dat die ruimteagentskap beslag lê op die stof. Cicco se prokureur, Christopher McHugh, het gesê Nasa het ʼn geskiedenis dat hulle beslag lê op privaat burgers se besittings, indien dit vermoedelik van die maan af kom.
Cicco voer aan die maanstof was ʼn geskenk van Armstrong, wat vriende was met haar pa, ʼn voormalige vlieënier vir die Amerikaanse weermag. Armstrong en Tom Murray, wat die grootste deel van sy loopbaan politici en afgevaardigdes rondgevlieg het, was albei lede van die Quiet Birdmen, ʼn geheime klub van manlike vlieëniers. Armstrong was in die 1970’s ʼn professor in ruimte-ingenieurswese aan die Universiteit van Cincinnati terwyl die Murray-familie in die stad gewoon het. Hy het in daardie stadium die buisie maanstof aan sy vriend se dogtertjie gegee.
Alhoewel daar nie ʼn wet is wat privaat burgers verhoed om materiaal te besit wat van die maan afkomstig is nie, is Cicco die regmatige en wettige eienaar van die maanstof, het McHugh verduidelik. Die bewys is die handgeskrewe briefie, wat deur ʼn handskrifkenner nagegaan is.
ʼn Woordvoerder van Nasa het gesê dit sal “onbehoorlik” wees om kommentaar te lewer terwyl die hofsaak voortduur.
ʼn Kenner, wat die stof getoets het, het bevind dit “is moontlik van die maan se oppervlak afkomstig”, aldus hofdokumente.
Die maanstof is tans in die prokureur se besit vir veilige bewaring.
-Washington Post
Party mense is regtig met die maan gepla…
Hoeveel van ons glo dat Amerika WERKLIK na die maan was?
Lynette Is jy ook n “conspiracy theorist”?
Lynette,
Regtig? Watter bewyse het jy dat hulle nie daar was nie?
Grootmense, met logiese denke, is oortuig hulle was wel maan toe, nie een keer nie, maar baie, tot Apollo 17
Hoekom enige-iets sê? As dit vir soveel jare veilig was en sonder dat NASA daarvan geweet het, kon dit seker nog so aangegaan het. Tensy sy dit, wat haar ouers so mooi bewaar het, dalk wil opveil en nou net $$$$$$ sien.
Ah hoe lekker lag ek nou vir Realis skerp !!!
Goeiedag Maroela Media
Dit moet “Armstrong en Tom
Murray…” wees en nie Amstrong nie.
Groete
André
Dagsê André
Baie dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Landi nms Maroela Media