Hond red hert van verdrinking

Harley en die jong hert het saam na die oewer geswem. (Foto: Ralph Dorn/Facebook)

ʼn Golden retriever genaamd Harley het ʼn jong hert uit ʼn meer in Virginia in die VSA gered.

Harley het glo al langs die hert geswem en eindelik die dier terug na die oewer gelei.

Die sesjarige hond se eienaar, Ralph Dorn, was vroeër vandeesmaand op soek na Harley toe hy hom in die middel van ʼn meer agter sy huis sien swem het. Tot Dorn se verbasing was Harley besig om saam met ʼn jong hert te swem.

“Ek weet nie hoe die hert in die meer beland het nie, maar Harley het nie rondgewag om uit te vind nie en het sommer dadelik ingespring om te help,” het Dorn in ʼn Facebook-plasing oor die voorval geskryf.

Hy het kort daarna die diere op die oewer aangetref en vinnig die hert uitgehelp.

“Harley wou nie die hert vir ʼn sekonde alleen los nie. Hy het net aangehou om die hert te lek en te versorg,” het Dorn aan People vertel.

Die jong hert was weer met sy ma herening. (Foto: Ralph Dorn/Facebook)

Kort nadat albei diere veilig was, het die hert se ma op Dorn se grasperk opgedaag.

“Ek het Harley dadelik huis toe geneem. Nadat ons binne was, het die hert en haar ma weggestap.”

Die volgende oggend het Harley weer begin rusteloos raak.

“Hy het van venster na venster gehardloop. Ek het die deur oopgemaak en toe kon ons die hert se gekerm hoor. Harley het na die bome toe gehardloop waar hy die hert gesien het. Die hert het onmiddellik ophou brom en hulle het met hul neuse aan mekaar gesnuif. Harley was toe rustiger en het saam met my teruggegaan huis toe.”

Harley, wat as ʼn jong hond reeds besorg was oor kinders en diere, werk as ʼn gesertifiseerde terapiehond en kuier gereeld by bejaardes in versorgingsfasiliteite. Hy besoek ook die plaaslike biblioteek en sit saam met kinders tydens leesure.

“Harley is ook beste vriende met ons familiekat, Zsu Zsu,” sê Dorn.

Volgens People het Dorn nog nie die jong hert of sy ma sedert die voorval opgemerk nie.

Harley het die jong hert na die oewer toe gelei. (Foto: Ralph Dorn/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantz

Wat n wonderlike storie om te lees

Abraham

Diere tree beter op as mense…

Misky

Sulke mooi stories gee mens weer krag vir die lewe tussen al die moord en doodslag. As sommige mense darem Harley se hart en deernis gehad het

Stof

Hierdie hond het bewys, dat dierbaar dikwels die dierlik by verre oortref. Mag elkeen wat hierdie opheffende vertelling lees, gemotiveer word om hierdie voorbeeld ook deel van hulle denkwyse te maak.