Honde moet skoene dra, sê polisie

Foto: Zürich-polisie, Facebook

Die polisie in Zürich, Switserland, het met ʼn sogenaamde “Hot Dog”-veldtog begin en moedig eienaars aan om skoene vir hul honde aan te trek.

Die polisie het in ʼn verklaring gesê die hoë temperature wat tans in die land beleef word, kan ook ongemaklik wees vir diere.

ʼn Uitgerekte hittegolf in Europa beteken dat Switserland een van die warmste somers ooit beleef, sedert aantekeninge in 1864 begin het. Temperature in Julie was ongeveer 30°C. Aldus die SwissInfo-nuuswebwerf ervaar dele van die land ook ʼn droogte.

Michael Walker, woordvoerder vir die Zürich-polisie, het gesê 30°C kan op die teer soos 50°C – 55°C voel. “Wanneer ʼn hond op warm teer loop, kan hy sy pote brand, net soos ʼn mens wat kaalvoet loop,” het hy gesê.

Die polisie raai eienaars aan om te kyk of die grond nie te warm is nie, voor hulle met hul honde gaan stap. Hulle verduidelik dat jy die agterkant van jou hand vir vyf sekondes bo die grond moet hou om te bepaal of dit te warm is. “As dit te warm is vir jou hand, dan is dit te warm vir ʼn poot!”

Hulle maan troeteldiereienaars ook om nie die diere in warm motors te laat nie en seker te maak hulle het genoeg water om te drink.

“Is dit te warm? Vermy dan roetes in die son op die teer, trek sokkies aan vir groot honde en dra kleiner hondjies!” aldus ʼn inskrywing op Facebook.

Honderde Facebook-gebruikers het die veldtog geloof.

Die Zürich-polisie het gesê hul dienshonde dra ook skoene wanneer hulle inbrake ondersoek om hulle teen gebreekte glas te beskerm en om die motorsitplekke te beskerm wanneer snuffelhonde rondgery word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cherokee ·

Wat eina is, is om op die strand kaalvoet in warm sand te loop. Dit is nie loop op die sand nie maar ìn die sand.

Danie ·

Dalk is ons in Suid-Afrika net gewoond aan baie warmer temperature , aansienlik meer as 30°C . 30°C is wanner sommige ouens hier eers hulle truie uittrek.

Ek Stem Saam ·

Enige temperature ONDER 21 grade, en ek vries, bibber en bewe. Limpopo en Noord-Kaap het die beste somer temperature… Weet nog nie waar ek wil bly in die winter nie, want orals waar ek kom wil ek soos ‘n beertjie hiberneer…

Johan ·

Ja en groot honde soos Rotties moet steuwels dra. En wat van ‘n mooi poelies keps om die hond se oë te beskerm. Dit alles maar net tong-in-die-kies. Dis ‘n mooi gebaar om die honde te wil beskerm, ek haal my keps af vir die ouens.

Nettie ·

@Johan – jy vergeet van die sonbrandroom – mét UVA, UVB én UVC-beskerming van 50+. En ‘n botteltjie water om die nek gebind, om ontwatering te voorkom.

Snowball ·

Katte natuurlik ver vooruit….”Puss in Boots” dra al lankal steweltjies. Hond se kind dra seker “Jimmy Chows” of “Dogs in Dior”?

Nettie ·

Wat?????? 30 grade C is vir ons hier in Worcester, in die somer alte heerlike somerweer ….. Dis mos nie warm nie!!! Ons begin eers te hyg as die kwik 45 grade C slaan en as dit nou régtig warm is, slaan die kwik so 48 grade C!

Casper Labuschagne ·

Ek kan my net voorstel hoe so ‘n wafferse polisiehond sal lyk met ‘n viervoudige stel Doc Martens aan die pote en Ray Bans op die neus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.